Omstredenheid volg die popster Justin Bieber oral waar hy gaan en sy manewales laat hom gereeld in die sop beland.

[caption id="attachment_153234" align="aligncenter" width="600"]Foto: Instagram - Justin Bieber Foto: Instagram - Justin Bieber[/caption]

Hierdie keer is dit omdat hy glo sy arme sewe maande oue hond, Todd, in die steek gelaat het. Die Chinese keeshond was glo net ’n paar maande in die Sorry-sanger se besit, toe Justin moeg raak vir die hondjie en hom weggee vir een van sy dansers. Dié het intussen vasgestel klein Todd is met ’n afwyking gebore en het peperduur chirurgie aan sy heupe nodig, anders sal hy nie meer behoorlik kan loop of speel teen die tyd dat hy een jaar oud word nie.  

Die danser, CJ Salvador, het hom tot Twitter gewend en gevra vir bydraes om die hond se mediese koste te help dek.

CJ kon gou-gou die geld insamel om vir Todd se operasies te betaal, maar aanhangers het na Justin gekap omdat die skatryk sanger nie aangebied het om die koste te dek nie.

"Wag ’n bietjie! Hierdie hond was tot onlangs Justin s’n en hy kan maklik help," het een geskryf, terwyl nog een wou weet: "Waarom betaal Justin nie net nie? Ek meen, dit was sy hond en hy kan dit bekostig." Talle aanhangers het selfs op Twitter gevra dat Justin hand moet bysit, maar dit blyk die sanger het nie gereageer nie. Tog hou CJ vol hy wou Justin nie om hulp vra nie omdat die hond nie meer Justin s’n is nie.

Dis nie die eerste keer dat die Biebs se gewoontes met sy troeteldiere mense in die harnas jaag nie.

Hy het onder meer al 'n troetelapie besit sowel as ’n slang en hamster, maar het glo vinnig belangstelling verloor en die diere weggegee of gevra dat ander mense na hulle begin omsien.

Bronne: Twitter, Complex, Instagram, Mirror.