Hy sê in ’n aanlyn video hy wou iets baie spesiaals vir liefdadigheid doen. “Ek wou regtig iets spesiaals vir die Make-A-Wish-stigting doen, en toe werk ek saam met Prizeo.com om jou die kans te gee om ’n paar spesiale pryse te wen. Vir ’n skenking van sowat R100 aan die Make a Wish-stigting sal jy ingeskryf word vir ’n kompetisie waar die wenner na Los Angeles gebring sal word en my eerste motor sal huis toe neem.”

Die ster van die fliek Bad Neighbours sê in die video die motor is besonders omdat dit die voertuig is waarmee hy leer bestuur het. “Dis die motor waarin ek alles geleer het. Hoe om te bestuur, ek het my eerste rybewys daarmee gekry, my eerste ongeluk. Terloops, dit was nie my skuld nie.”

Besoek Prizeo.com/Zac en maak ’n skenking om in te skryf.

Zac het onlangs op Running Wild with Bear Grylls verskyn en gepraat oor die probleme wat hy ervaar het wat verlede jaar tot sy twee draaie in rehabilitasiesentrums gelei het. Hy het erken dit het “baie werk” geverg om gemaklik in sy vel te voel.

“Dit het ’n punt bereik waar ek minder omgegee het oor die werk en ál meer na die naweek uitgesien het. Ek kon nie wag om uit te gaan en net te ontspan en pret te hê nie,” het hy aan die Britse avonturier gesê. “Maar toe raak Maandae en Dinsdae te moeilik om deur te kom.”

© Cover Media