“Ma, wanneer eet ons?” Dié vraag is genoeg om jou paniekerig te maak, veral as die horlosie aandete se kant toe staan en jy nog nie eens tyd gehad het om te dink wat jy gaan voorsit nie. Vrieskos is die maklikste oplossing. Dit verg min beplanning en die moontlikhede is legio.

Maalvleis

Maalvleis is baie veelsydig en kan as ’n basis vir verskeie geregte dien. As jy maalvleis vooraf gaarmaak en vries, kan dit jou baie tyd in die kombuis spaar. Gebruik ’n eenvoudige kerriemaalvleis- of bolognese-resep en verdubbel of verdriedubbel dit. Berei ’n groot pot van die maalvleismengsel (kerrie of bolognese), sit een deel dieselfde aand voor, laat die res afkoel, verdeel dit in porsies en vries dit. Gaar maalvleis kan vir twee tot drie maande gevries word.

Kerriemaalvleis

  • 2 uie, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 15 ml olie
  • 500 g maalvleis
  • 30 ml kerriepoeier
  • 45 ml blatjang

Braai uie en knoffel in olie. Voeg res van bestandele by; roerbraai tot gaar.

Ontdooi dit en gebruik vir:

  • Bobotie - Skep die maalvleismengsel in ’n oondbak, maak ’n eenvoudige eiervla en gooi dit bo-oor. Druk ’n paar lourierblare in en bak tot deurwarm en gestol.
  • Vetkoeke met kerriemaalvleis – Verhit die maalvleis in ’n kastrol, gooi ’n koppie ertjies by, verhit en vul die vetkoeke met die mengsel.
  • Kerrie-herderspastei - Meng ’n paar gerasperde wortels met die maalvleis, skep in ’n oondbak, bedek met kapokaartappel of selfs groentekapok (’n mengsel van kapokaartappels en pampoen of wortel) en bak in die oond tot deurwarm.

Bolognese

  • 30 ml olie
  • 30 g botter
  • 1 uie, grof gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 1 selderystingel, grof gekap
  • 1 wortel, gerasper
  • 500 g maalvleis
  • 15 ml tamatiepasta
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 500 ml vleisaftreksel
  • 15 ml sagte bruinsuiker
  • 5 ml worcestersous
  • Sout en swartpeper
  • 60 ml pietersielie, origanum en tiemie, grof gekap

Verhit die olie en botter in ‘n kastrol en braai die ui, knoffel, seldery en wortel ‘n paar minute. Roer die maalvleis by en braai tot sag. Voeg die ander bestandele by en bring tot kookpunt. Verlaat die hitte en laat prut vir 40-50 minute. Roer die kruie deur.

Ontdooi dit en gebruik vir:

  • Lasagne - Maak ’n eenvoudige witsous, pak lae lasagnevelle, maalvleis en witsous in ’n oondbak, en eindig met die witsous en kaas. Bak in die oond tot gaar.
  • Bolognese-pizza - Versprei die maalvleis oor ’n bereide pizzabasis, rangskik gehalveerde kersietamaties tussenin, sprinkle kaas oor en bak in die oond tot gaar. Sprinkel vars basilie oor en sny in skywe.
  • Tamatiesop Verhit die maalvleis, ’n blik gekapte tamaties en ’n liter beesvleisaftreksel in ’n kastrol. Geur met suiker, sout en vars gemaalde peper en verhit tot kookpunt. Sit voor met roosterbrood.

Hoender

Gaar, fyn hoendervleis is ook baie veelsydig en werk baie goed as vrieskos. Voeg net ’n sous of ’n paar bestanddele by en jy het ’n maaltyd in ’n kits. Maak ’n ekstra hoender of hoenderporsies gaar wanneer jy kos maak. Laat die hoender heeltemal afkoel, verwyder die bene, pluis die vleis rofweg en vries in porsies. Gaar, ontbeende, fyn hoendervleis kan vir tot drie maande gevries word.

  • 15 ml botter
  • 3 uie, in skywe gesny
  • 12 tiemietakkies
  • 125 ml broodkrummels
  • Sout en peper
  • 1 heel hoender
  • 15 ml olyfolie
  • 15 ml hoenderspeserypoeier
  • 1 knoffelbol, gehalveer
  • 125 ml hoenderaftreksel

Voorverhit die oond tot 230°C. Verhit die botter en braai die uie en tiemie oor lae hitte tot gekaramelliseer. Laat heeltemal afkoel en meng met die broodkrummels. Geur met die sout en peper. Stop die buikholte van die hoender met die vulsel, smeer die vel met die olyfolie en vryf die speserye in. Pak die knoffel in ‘n oondbak, giet die aftreksel oor en plaas die hoender bo-op. Rooster 20 minute. Verlaag die temperatuur tot 160°C en oondbraai nog ‘n uur of tot gaar.

Ontdooi dit en gebruik vir:

  • Pastageregte - Voeg jou gunstelingpastasous by die hoender, verhit en meng dit met gaar pasta.
  • Pasteie - Braai ’n ui, knoffel en sampioene en voeg die gaar hoender en ’n bietjie aftreksel by. Verdik met ’n bietjie mielieblom en skep in ’n pasteibak. Bedek die vleismengsel met skilferkorsdeeg en bak dit in die oond tot goudbruin en gaar.
  • Hoendertoebroodjies - Maak toebroodjies met die hoender en mayonnaise, kaas of ander vulsels. Rooster die broodjies tot die hoender warm en die kaas gesmelt is.

Algemene wenke

  • Moenie kook net om te vries nie; verdubbel of verdriedubbel eerder ’n resep en sit een deel dadelik voor. Laat die orige kos goed afkoel, verdeel in porsies en vries.
  • Vrieskos het meer geurmiddels (speserye, sout, peper, ensovoorts) nodig, want die geur is geneig om ná ontvriesing te verflou.
  • Maak seker die gaar, bereide kos het heeltemal afgekoel voor jy dit vries.
  • Ontdooi vrieskos verkieslik oornag in die yskas vir die volgende dag se gebruik.
  • Moenie aartappel, eiervla of groot stukke vleis vries nie.
  • Vries kos in lugdigte houers of vriesbakkies of draai dit goed toe met tinfoelie en/of kleefplastiek.
  • Merk die bakkie/sakkie met die datum waarop jy die kos gevries het.

-Esther Malan