harry3

Die blonde sosiale vlinder word volgens ’n nuwe hofsaak as ’n “aandagsoeker” bestempel.

Prins Harry is glo oorval deur oproepe en teksboodskappe van sy “aandagsoeker”-eks, Chelsea Davy.

In ’n hofsaak oor die beweerde telefoon-inbraak van Clive Goodman, ’n oudjoernalis van News of the World, is getuig hoe Chelsea die prins (29) met oproepe en teksboodskappe oorval het. Hy het toe aan die Sandhurst Militêre Akademie studeer.

In ’n e-pos van Augustus 2005 het Clive glo die redakteur, Andy Coulson, vertel Chelsea “bombardeer hom (Harry) met dosyne oproepe” en “maak hom (Harry) rasend”.

Daar is ook beweer die koningsgesin noem die blonde sosiale vlinder “ongelooflik aandagsoekend”, berig The Telegraph.

Clive het in die e-pos geskryf: “Hy mag nie sy selfoon by Sandhurst gebruik tot hy nie meer aan diens is nie, maar sy bombardeer hom met tientalle oproepe en teksboodskappe terwyl hy op sy afrigting moet konsentreer.

“Die familie hou nogal van haar, maar hulle is bekommerd dat sy ongelooflik aandagsoekend is, in ’n tyd dat Harry op homself moet konsentreer.”

Harry en Chelsea (28) is in 2010 uiteen; hy en Cressida Bonas gaan nou uit.