“Ons het ook altyd geweet Afrikaanse TV-kykers gaan baie van Suidooster hou, maar die versoeke van kykers vir nog episodes het ’n stormsterk wind geword en kykNET het geluister.”

Só het Karen Meiring, direkteur van Afrikaanse Kanale by M-Net, verlede maand bekend gemaak dat die sepie nie meer net drie dae nie, maar vier dae per week uitgesaai sal word.

Vanaf 7 Julie kan aanhangers van die gewilde Afrikaanse sepies ook nou op ’n Donderdag regskuif om in die lief en leed van die Samsodiens, Octobers, Du Plooys en Gerbers te deel.

Ingeval jy nie van die eerste episode gekyk het nie, gee ons vir jou ’n kort opsomming van die belangrikste storielyne tot dusver.

Die verlore dogter keer terug

Tydens Mrs. Jacobs se sewentigste verjaardagpartytjie daag haar verlore dogter, Lee-Ann Jacobs, op. Bridgette, die ouer suster, is nie gelukkig hieroor nie (Lee-Ann het destyds ’n skelm verhouding met Ian aangehad) en probeer alles in haar vermoë om haar uit Ruiterbosch weg te kry.

SO leann

Ons het mettertyd uitgevind dat hul pa, Henry Jacobs, oorlede is as gevolg van Lee-Ann se dwelmverlede en Bridgette se jaloesie. Mrs. J hoop haar dogters sal eendag met mekaar vrede kan maak, maar Bridgette vertrou Lee-Ann nie vir een oomblik nie.

Ian October en die Suidooster Sentrum

Ian October wou die Suidooster Sentrum, waarvan hy net die bestuurder was, uiteindelik besit sodat hy daarvan ontslae kon raak en met ’n nuwe ontwikkeling begin. Maar hy het volle eienaarskap nodig gehad om sy planne deur te sien – eienaarskap wat hy net kon kry mits Mrs. J dit aan hom oorteken.

Wanneer sy langverlore skoonsuster egter opdaag, ontvang sy vanaf Mrs. J haar aandele in die Suidooster Sentrum. In die proses ontvang sy vrou, wat nooit ’n vinger lig nie, ook aandele in die sentrum.

SO ian

Wanneer Lee-Anne sy aanbod om haar uit te koop van die hand wys, mik hy sy visier op ’n brose en baie oue Mrs. J. Ian en Chris beraam ’n plan om Mrs. J onbevoeg te verklaar sodat sy noodgedwonge die bestuur van haar aandele en die sentrum in Ian se hande moet oorlaat.

Bridgette vind uit van Ian se planne om sy ma onbevoeg te verklaar en wanneer die aandeelhouers oor die toekoms van die sentrum moet stem, stem sy teen haar man. Ian verloor sy greep op die Suidooster Sentrum.

Bianca Fourie spoor haar biologiese ma op

Mymoena en AB Samsodien is in ’n stabiele, gemaklike verhouding. Maar wanneer Mymoena se kind, Bianca Fourie, opdaag, breek alle hel los. Mymoena het Bianca sonder AB se medewete gehad en opgegee vir aanneming voor hulle getroud is.

Bianca kom in met die doel om haarself in die gemeenskap te vestig, sodat sy toegang tot Mymoena het. Sy soek werk in die apteek en word uiteindelik verwys na Oos Wes waar sy werk as ’n kelnerin kry.

SO mymoena bianca

Bianca erken uiteindelik aan haar nuwe vriendin, Michelle Gerber, dat haar biologiese ma in die sentrum “werk”. Sy maak Michelle belowe sy sal dit alles geheim hou. Maar Bianca en Mymoena raak skielik na aanmekaar. Bianca onthul aan Mymoena dat sy haar dogter is.

AB is verslae en wil skei, maar na weke se baklei en selfverwyt kom dinge tussen die Samsodiens reg en Bianca raak deel van die familie.

Michelle en Stefan Gerber ervaar tragedie

Stefan en Michelle Gerber is familie van Chris en Tim du Plooy wat noodgedwonge by hulle moet intrek vir ’n onbepaalde tyd. Hulle kom albei van Pretoria en is nuut in die Kaap.

Hulle is in ’n klein finansiële oorlog as gevolg van Stefan se ambisie en dit dreig om hulle huwelik te verwoes, maar daar is ook Michelle se behoefte aan ’n gesin.

SO michelle en stefan

Sy raak onbepland swanger en hy vermoed sy het hom bedrieg. Michelle is alleen gelukkig oor die vooruitsig van ’n gesin, maar Stefan moet die nuus nog verwerk. Wanneer hy dit wel aanvaar, verloor Michelle die baba.

Ian October kom sy moses teë

Ian, steeds bitter oor die sentrum nie aan hom behoort nie, maak ’n ander plan. Wanneer hy ’n ou vriend, Harry Galant, raakloop, besluit die twee van hulle hom weer bande te smee.

Ian beplan om lewe in die sentrum ondraaglik en onuithoubaar te maak deur ’n klomp klein misdade te laat pleeg: diefstal, inbrake, gewapende roof, en so meer. Hy het gehoop dat Lee-Ann en haar gesin die sentrum sal wil verkoop, maar dinge loop egter skeef wanneer Harry sy eie kop begin volg.

SO leann bridget ian

Hy wurm hom in by die October-huis en hou Bridgette, Nicci en Jerome gyselaar terwyl Ian volgens Harry se pype moet dans. Maar Ian kom tot sy gesin se redding en laat Harry gaan voordat die polisie hom beetkry, wetend dat as hulle doen, sal sy eie bose planne aan die lig kom.

Die skrik wat Ian op die lyf gejaag is, verander hom handomkeer, maar vir hoe lank?

Jerome se eerste groot liefde

Jerome kan nie uitgepraat raak van ’n bootpartytjie waarna hy uitgenooi is nie. Wanneer Jerome die oggend ná die bootpartytjie wakker word, word hy nie alleen wakker nie.

Jerome skrik wakker in die October-sitkamer met 'n pragtige blonde meisie, Carmen Fourie.

SO carmen jerome

Hulle besef gou dat hulle die vorige aand getrou het. Hulle probeer dit ’n geheim hou terwyl hulle na ’n uitweg soek – hulle moet skei, maar hulle het geen idee waar om te begin nie. Intussen begin hulle van mekaar te hou.

Toe die Octobers uitvind van die huwelik, dring daarop aan dat die twee van mekaar skei. Na lekker drama besluit hulle wel om te skei, maar wanneer Jerome sy liefde aan haar verklaar, trek hulle saam in. Hulle vind egter uit dat die haastige hond wel sy mond verbrand het.

Rita du Plooy maak haar verskyning

Rita du Plooy is Chris se vrou en Tim se ma. Sy is terug by die huis na baie jare se behandeling vir skisofrenie. Sy is ontslaan omdat betalings na die sanatorium gestaak is – ’n teer saak vir Chris wat nie sy eie vrou se mediese onkostes kan dek nie. Rita probeer baie hard om normaal voor te kom.

Wanneer sy terug is by die huis, is daar egter soveel emosies wat sy wil en behoort te ervaar, maar nie kan nie weens haar medikasie. Rita besluit om een dag van haar medikasie oor te slaan om te kyk hoe dit gaan.

SO Rita use

Rita ervaar niks anders vandat sy haar pille gelos het nie, besluit om dit dan permanent te los. Dinge loop skeef wanneer sy begin vermoed haar man sien iemand anders, ene Lee-Ann Jacobs.

Chris besef Rita het opgehou om haar medikasie te neem en smeek haar om dit weer te gebruik. Rita dink Chris se smeek is deel van ’n groter komplot teen haar.

Rita se toestand verswak en sy dink die enigste veiligste plek is op straat – sy verdwyn.

Wanneer hulle haar wel opspoor, besef hulle dat Rita teruggestuur moet word en dié keer dalk permanent . . .

Fasie se groot liefde sterf, maar daar's 'n slang in die gras

AB sukkel om te herstel ná die skietvoorval in die apteek en kort voor lank begin PTSS-simptome kop uitsteek. Hy dring daarop aan om weer by die apteek te werk, teen almal se besware.

Hy staan sy man en begin weer by die apteek te werk. Hy maak foutjies, hy sukkel om te konsentreer en almal is bekommerd. AB erken uiteindelik sy simptome en besluit om ’n terapeut te gaan sien.

SO fasie en matilda
Maar wanneer Fasie se Matilda die verkeerde pille drink en sterf aan ’n hartaanval, word die grond weer onder AB uitegruk . . . Derick, Mathilda se seun, sweer wraak teen AB en sy apteek. Maar is AB skuldig? Of is daar iemand anders te verwyte? Save Save