“Hy was in die kombuis en al die huis se deure was toe,” vertel sy ma, Amanda, uit Richardsbaai. Toe die vierjarige Juandre se ma weer sien was die een deur oop en moes Juandre vermoedelik by dié deur uitgeloop het.

“Ek het besef hy is weg en hom gesoek,” vertel sy ma.

Nadat Amanda op hom afgekom het, is hulle inderhaas hospitaal toe, waar dokters sowat 40 minute lank gespook het om sy lewe te red. Aanvanklike breinskanderings het gewys hy het breinskade, maar Amanda sê latere skanderings het wonderbaarlik gewys dié skade is weg.

Lees ook: Cruz Beckham volg al singend in ma Victoria se voetspore

Juandre het wel skade aan die linkerkant van sy lyf opgedoen en kry nou fisioterapie om weer die spiere aan dié kant van sy liggaam behoorlik te gebruik.

“Toe ek op hom afkom, was my eerste gedagte net dat ek hoop my kind leef nog,” vertel sy.

“Ons het gebid, want dit is al wat jy werklik kan doen. Ons gee al die eer aan die Here; as dit nie vir sy genade was nie, het ons seuntjie nie vandag hier by ons huis rondgehardloop met geen skade nie.”

Dit is waar dat kinders soms langer as vyf minute in water kan oorleef, maar dis dikwels net as die water baie koud is, sê dr. Michael Lippert, ’n pediatriese neuroloog van Johannesburg. Gelukkig was Juandre nie langer as vyf minute in die water nie, sê sy ma, en was die water redelik koud omdat dit al skemer was.

“Aanvanklike skanderings kan breinswelling wys, en as die breinskandering ’n MRI is, nog heelwat inligting gee. Daardie swelling kan later bedaar as die skade lig was,” sê Michael ook. Juandre het wel ’n MRI-skandering ses dae ná die ongeluk gehad en ook een byna twee maande later.

Michael verduidelik “as daar (blywende) skade is, sal ’n MRI wat reg uitgevoer word, in byna 99 persent van gevalle die skade akkuraat aantoon.” ’n MRI is ’n soort skandering wat inwendige skade aan ’n liggaam kan aantoon.

Lees ook: Die Here is groot, sê Hayley se ouers nadat haar toestand verbeter

Dr. Lippert sê die Kruger-gesin se geval is uniek. Hy sê skanderings wat tussen agt en 10 dae ná ’n ongeluk gedoen word, kan soms misleidend wees en die indruk skep dat daar nie skade is nie. Hy beveel aan dat skanderings drie tot vyf dae of ná 15 dae ná ’n byna-verdrinking gedoen word.

Hy voeg by ’n MRI-skandering behoort ook te wys dat Juandre aan sy linkerledemate skade opgedoen het.

“Ons is baie bly om die kind en sy ouers se onthalwe; dit kon tragies geëindig het.”

Ander stories op Huisgenoot.com:

Deadpool se Ryan Reynolds en sy mooie vrou Blake Lively deel groot nuus

Kyk: Ratse sjimpansee ‘cha-cha’ op kragdrade ná sy ontsnapping

Pragfoto’s: Die sprokiesverhaal van prins Rainier III en die beeldskone Grace Kelly se lewe saam

Hiert jy! Daar ontluik nóg ’n Schumacher in ’n gedugte spoedvraat

Ouers in trane oor jong Asperger-lyer se roerende gedig