Dié pensioentrekker, wie se naam vanweë Duitsland se reg op privaatheid nog nie bekend is nie, is deur die Duitse polisie ondervra nadat sy ’n gedeelte van ’n kunswerk ingevul het.

Min wetend dat dié kunswerk, genaamd Reading-work-piece, meer as R1 miljoen werd is. “Reading-work-piece” deur die Deense kunstenaar, Arthur Köpcke, lyk soos ’n leë blokkiesraaisel met ’n teken langs die kunswerk wat sê: “Vul die woorde in.” Volgens The Telegraph het dié vrou aan die polisie verduidelik dat sy maar net die kunstenaar se opdrag gehoorsaam het. “Die vrou het vir ons gesê dat sy net die aanwysings gevolg het as ’n uitnodiging om die blokraai in te vul,” het ’n polisiewoordvoerder aan The Telegraph gesê. Die bejaarde was deel van ’n groepsbesoek aan die Nuwe Museum in Neurenberg, die tweede grootste stad in die deelstaat Beiere. Hoewel die museum aanvaar dat die bejaarde nie enige skade wou aanrig nie, moes hulle in elk geval die polisie ontbied vir versekeringsdoeleindes.

Eva Kraus, die museum se direkteur, het gesê dat die skade nie permanent is nie en dat dit taamlik maklik sal wees om die kunswerk te herstel.

“Die privaat versamelaar wat die kunswerk aan die museum aangebied het, beskou die voorval in ’n goeie lig,” het Eva gesê.

Die bejaarde het ook aan die polisie gesê dat as die museum nie wil hê besoekers moet die kunstenaar se aanwysings volg nie, moet hulle dit duidelik maak.

Ná dié voorval het die museum wel gesê hulle sal die teken langs die kunswerk verander om seker te maak dat besoekers nie voel hulle moet die leë blokkies invul nie.

Bronne: The Telegraph, Viralnews365.com, Celebritynewsinsider.com