’n Russiese militêre vliegtuig het Sondag kort na dit opgestyg het in die Swart See naby die stad Sotsji neergestort, berig Al Jazeera. Volgens SkyNews het die vliegtuig vanaf radarskerms verdwyn slegs enkele minute nadat dit vanaf Sotsji se internasionale lughawe opgestyg het.

Daar was 91 mense aan boord met nog geen nuus van enige oorlewendes. Onder die passasiers was die lede van die Rooi Weermag Koor, ’n wêreldbekende militêre orkes. Volgens The Telegraph was die Tu-154-vliegtuig op pad na Sirië. Die orkes sou daar optree vir die troepe as deel van deurlopende Kersfeesvieringe.

Reddingswerkers het sover nog net enkele wrakstukke gevind sowat 1.5 km vanaf Sotsji se kus. Al Jazeera berig ook dat daar ’n lyk sowat 6 kilometer daarvandaan gevind is.

Die lyk is opgepik deur ’n verbygaande reddingsskip.

Onder die minstens 91 mense aan boord was 83 passasiers en die res bemanningslede.