“Hy was verskriklik lief vir sy oupa,” het Linda Smit, Luan Alberts se onderwyseres, Woensdag aan Huisgenoot.com vertel. 

Luan en sy oupa, Allen Coleske, was Saterdagaand in Lazarweg in Randfontein in ’n kop-aan-kop-ongeluk betrokke. Allen is op slag dood en Luan is later met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. 

“Hy kon nie wag om die naweek by sy ouma en oupa te gaan kuier nie. Luan het altyd vertel hoe hy saam met sy oupa duiwe vlieg,” het Linda gesê.

Luan het in 2015 ’n gru-ongeluk in Brandvlei oorleef waartydens sy ma, Jackie, sy sussie, Alandri, asook Gunther Bühner, die voormalige skoolhoof van die Nic Diederichs Tegniese Hoërskool, oorlede is. 

Luan moes ná die ongeluk ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes bywoon waar hy arbeidsterapie gekry het. 

Maar hierdie week staan sy tafel onaangeraak in die gr. 3-klaskamer by die Wesrand Skool in Krugersdorp.

“Luan se maatjies het gevra dat ons sy tafeltjie in die klas los,” vertel sy hartseer onderwyseres.

Daar is ook ’n foto van Luan, blomme en ’n kers voor in die klaskamer. 

Linda vertel dat Luan haar nog verlede week aan sy verjaardag herinner het en gesê het sy moet onthou om ’n koek te koop. “Hy het gesê hy word die tiende van die tiende maand tien.”

Die skool-revue wat vroeg in September sal afskop, word nou ter nagedagtenis van Luan gehou. 

“Luan se plekkie in die revue en in die klaskamer is leeg”. 

Die skool het Woensdagoggend ’n volle kleedrepetisie vir die revue gehou waartydens daar ook amptelike foto’s geneem is. 

“Ons moes sy dansgroepie aanpas om sy spasie te vul. Hy het heel voor gedans”. 

Luan was ’n vriendelike kind wat graag grappies gemaak het. “Hy was ’n gelukkige ou seuntjie en baie slim”. 

“Twee bakkies het kop-aan-kop gebots. Die seun is met die impak van die botsing uit die bakkie geslinger. Hy is op die toneel behandel en is in ’n kritieke toestand na die Lenmed-hospitaal gejaag. Hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Die volwassene was in die bakkie vasgekeer en is reeds op die toneel dood verklaar,” het Russel Meiring, woordvoerder vir ER24, bevestig.

Luan en sy oupa word albei Donderdag met ’n gedenkdiens in Randfontein gegroet.