Marcelle Hoffmann, voorsitter van die Barberton-tak, het ’n ondersoek by die Mbombela-tak uitgevoer nadat talle klagtes van die publiek ontvang is.

“Dit was skokkend, om die minste te sê. Daar is vier keer meer diere in ’n hok as wat toegelaat word. Daar is plek vir 60 katte, maar tans is daar meer as 220 katte, waarvan 44 snuifsiekte het.

“Ons het geriewe vir net 50 honde, maar daar is meer as 150 honde. Dit kan ernstige liefdadigheids- en gesondheidsprobleme veroorsaak,” sê Marcelle. Gevolglik moes 80 diere op 28 April van kant gemaak word.

Louie Amorim, die DBV-voorsitter in Mbombela, het gevolglik bedank.

Met die hulp van die DBV-takke op Barberton en Witrivier sal ’n nuwe komitee vir die Mbombela-tak aangestel word. Marcelle sê in die heersende ekonomiese klimaat kry liefdadigheidsorganisasies minder skenkings en dit plaas die DBV onder reusedruk.

“Ek het 18 maande laas ’n salaris ontvang. Die Nelspruit-DBV het uitstaande rekeninge van R300 000,” sê sy.

In sy reaksie het Louie gesê die rede vir die oorvol hokke was dat die veearts van 18 tot 23 April met verlof was.

“Die Witrivier- en Nelspruit-tak het voorheen as een gefunksioneer, maar is aan die begin van April geskei. Ek het by die hoofkantoor gepleit om die reëling te heroorweeg, maar hulle het my geïgnoreer. Die geldsinsameling wat ons aangebied het, was onsuksesvol, want niemand het geld nie,” sê Louie.

Jaco Pieterse, van die Nasionale DBV se skakelafdeling, sê elke DBV is outonoom, en as die Nelspruit-DBV sou sluit, sou die normale prosedure gevolg word ingevolge wetgewing waardeur die organisasie sou sluit en die bates verkoop word om van die skuld te delg.

“Die NDBV . . . sal nie verantwoordelik vir die skuld wees nie.”

Christo Nortjé, die veearts wat die tak met die van kant maak van die diere gehelp het, sê die wortel van die kwaad lê by mense wat nie hul diere laat steriliseer nie.

“Ek dink troeteldiereienaars moet gedwing word om te registreer en ’n lisensie vir hul diere te kry. Onoordeelkundige telery is die rede vir die oorvol hokke en nie die feit dat geen diere ’n week lank nie uitgesit is nie,” sê Christo.

Bron: News24

Ander stories op Huisgenoot.com

Groot nuus vir sepieliefhebbers

Ma probeer kind se moord verdoesel en beskuldig 7-jarige: ‘Jy het hom doodgemaak’

Kyk: Mense vorm ‘trampolien’ om gesin uit brandende woonstelblok te red

Wêreld se eerste 3D-gedrukte motorfiets lig soos ’n veer

Twee van ons land se mooistes byeen in Monaco!