sokkie

Aaron Greenblatt se grootste verwagtings is egter oortref nadat hy tot op datum 4 000 pare sokkies ontvang het.

Dié gr. 2-leerder aan die Primêre Skool Montrose het die Aaron’s Rock Your Socks and Jocks-projek begin nadat hy gehoor het van ’n seun wat skoene insamel. “Aaron het gevra: ‘Wat van sokkies?’ ” sê sy ma, Lee.

Hy het selfs ’n Facebook-blad onder sy projeknaam begin. Daarop word verskeie foto’s en video’s gedeel.

“Rooi sokkies, blou sokkies, lang sokkies, kort sokkies, skoolsokkies, sportsokkies, seunsokkies en meisiesokkies,” staan op ’n dokument wat as deel van die projek versprei word.

Sy mikpunt was 1 000 pare, en hy het op eie houtjie byna 600 pare ingesamel. Die Fourways-tak van Bounce-vermaaksentrum het 2 078 pare geskenk, en die Gautengse sokkievervaardiger Glencarol 1 000. Aaron het selfs die Glancarol-fabriek besoek, waar hy gesien het hoe sokkies gemaak word.

“Ons het ook 200 pare onderklere ingesamel, maar wil dié getal nog verhoog,” sê Lee.

Die sokkies sal geskenk word aan mense van alle ouderdomme – van babas tot bejaardes. Aaron sê die projek laat hom spesiaal voel omdat hy minderbevoorregtes kan help. “Ek is trots daarop om ’n verskil te maak, dit maak my gelukkig,” sê Aaron.

Die rede dat hy sokkies gekies het is omdat ander kinders skoene versamel het om uit te deel. Hoe kan jy in die winter skoene hê maar geen sokkies nie"?”

In een van die video’s wat op die Facebook-blad gedeel is, lê Aaron onder ’n hoop sokkies. Hy bedank mense vir hul donasies en doen ook op ander ’n beroep om ’n bydrae te lewer.