Hoe gemaak as jy so iets sien gebeur? Jy is ’n goeie Samaritaan wat gestop het om te help, maar wat as jou betrokkenheid meer kwaad as goed doen?

Behalwe as jy ’n noodhulpkissie en mediese ervaring het, is dit beter om vir die ambulans te wag, sê kapt. Kay Makhubela, ’n polisiewoordvoerder.

“Moenie aan enigiets raak as jy op die toneel aankom nie. Bel so gou as moontlik die ambulans.”

Makhubela sê nog ’n belangrike punt is om nie paniekerig te raak nie.

David Stanton, hoof van kliniese leierskap by Netcare 911, stem saam. “As jy op ’n padongeluk afkom, kan jy die verskil tussen lewe en dood vir die betrokkenes beteken,” sê hy.

“Onthou, in ’n noodgeval kan selfs die geringste optrede ’n groot verskil maak.”

Hier is agt dinge om in gedagte te hou as jy probeer help.

1. Verseker eerstens jou eie veiligheid. 

Is dit veilig vir jou om op die ongelukstoneel te wees? Jy kan niemand help as jy beseer of op enige wyse in gevaar is nie.

2. Stop op ’n veilige plek, met jou noodligte aangeskakel.

Sit ’n waarskuwingsdriehoek op ’n redelike afstand vanaf die toneel om ander motoriste te waarsku teen die moontlike gevaar wat voorlê. Dit sal hulle genoeg tyd gee om op ’n veilige wyse hul spoed te verminder. 

3. Kyk uit vir moontlike gevare op die toneel.

Dit kan insluit petrol- of diesellekkasies, brand, aankomende verkeer, gevaarlike diere of selfs vyandige omstanders.

4. Bekyk die toneel en stel vas of mense beseer is.

Indien daar beseerdes is, maak seker jy ontbied hulp. Gee vir die operateur jou nommer ingeval die oproep afgesny word.

5. Maak seker jy ken die presiese ligging van die ongeluk wanneer jy om hulp bel.

Soek vir die naaste kruising of enige groot baken wat van hulp kan wees om die omgewing aan die operateur te beskryf as jy nie seker is oor die ligging nie.

6. Gee vir die operateur ’n kort beskrywing van die toneel.

Probeer om die aantal beseerdes en die aard van hul beserings te beskryf. 

7. Moenie ’n beseerde persoon skuif nie.

Los beseerdes in posisie, behalwe as jy hulle moet skuif om hul lewe te red. Jy kan verdere beserings veroorsaak, veral as die persoon rugbeserings opgedoen het. Probeer eerder beseerdes kalm hou deur met hulle te praat en hulle te verseker dat hulp op pad is.

8. In die geval van swaar bloeding . . . 

Probeer die bloeding stop deur die wond met ’n skoon handdoek of kledingstuk te bedek.

Net soos daar dinge is om in gedagte te hou om te help, is daar ook dinge wat jy nie moet doen nie.

“Moet nooit aan iemand anders se oop wond of enige liggaamlike vloeistowwe raak as jy nie die nodige beskermende drag, soos handskoene, gesigmaskers en beskermende bril het nie,” waarsku Makhubela.

En indien ’n pasiënt met ’n voorwerp deurboor is, moenie dit probeer verwyder, behalwe as dit absoluut noodsaaklik is nie. Die voorwerp is dalk al wat keer dat die slagoffer doodbloei.

Bel die nooddienste die oomblik as jy op die toneel aankom en help waar nodig.