Sedert einde verlede jaar, toe die inhoud van terapiesessies tussen hom en sy eksvrou aan die media gelek is, het die publiek ’n ander kant van dié gerespekteerde akteur gesien: as ’n volwassene wat minderjarige meisies seksueel gemolesteer het.

Die stof oor dié openbaring het nog nie gaan lê nie. Een van Stephen se vermeende slagoffers, April Price, het haar hart onlangs eksklusief teenoor die Daily Mail Online oopgemaak. Sy was 13 en hy 35 toe hy hom glo op drie verskillende geleenthede aan haar ontbloot het. “Ek het by my tannie gekuier. Sy was ’n uitvoerende vervaardiger en het in ’n veiligheidskompleks in ’n woonstel langs mnr. Collins gewoon,” het die 44-jarige ma van die deelstaat Oklahoma vertel.

Hy . . . het nie ’n draad klere aangehad nie.

“Een dag was ek in die kombuis besig om ontbyt te maak en toe ek opkyk, sien ek mnr. Collins deur die binnehof stap tot reg voor my tannie se groot venster. Hy . . . het nie ’n draad klere aangehad nie.”

April het aanvanklik gedink dit is maar net vreemde gedrag, maar toe hy kaal uit die slaapkamer kom nadat hy haar genooi het om na memorabilia van ’n televisiereeks in sy huis te kom kyk, was sy verstom.

“O, genade, o genade. Wat gaan ek doen? Dit was regtig hartseer, want op 13 word ’n mens geleer om respek te betoon. Ons word geleer om eerlik en gaaf te wees. Ek wou nie ongeskik voorkom nie. Ek wou nie sê: ‘Trek asseblief net klere aan nie.’”

BRONNE: dailymail.co.uk; perezhilton.com; usmagazine. com