Verna10

Sy is vannag in haar huis in Brixton oorlede nadat daar in Desember verlede jaar kanker by haar gediagnoseer is.

Verna, wat bekendheid verwerf het as die skepper van Liewe Heksie, was van die begin af by 7de Laan betrokke en het twee keer per week as een van die toesighoudende regisseurs by die ateljees in Lonehill aangemeld. Sy is ook gereeld betrek as klankbord wanneer nuwe storielyne uitgedink is. Sy het getrou op haar pos gebly tot in Mei vanjaar, selfs nadat sy met chemoterapie begin het. Haar opgeruimdheid en humor, moed, intelligensie en onblusbare gees was vir span en spelers, oud en jonk, ’n voortdurende bron van inspirasie.

Vir 7de Laan se vervaardigers, Danie Odendaal en Annie Basson (asook vir verskeie akteurs en spanlede), was Verna nie net ’n gewaardeerde kollega nie, maar ook ’n dekade lange vriendin.

“Verna se heengaan is vir ons ’n onbeskryflike verlies,” sê Danie. “Haar teenwoordigheid, oordeel en kreatiewe bydrae sal terdeë gemis word. Wanneer sy die dag op stel was, het ons almal in ons spoor getrap, maar daar was ook baie pret en gelag en lekker sterk Douwe Egberts-koffie gemaak.”