Veels geluk, 7de Laan! Vanaand word die 3000ste episode om 18:30 op SABC 2 uitgesaai. In dié aflewering kyk ons hoe Charmaine reageer op die nuus dat Kim by Annelie en Nthabi intrek. Marcel vind ook meer oor Wynand uit, maar praat hy die waarheid?

Dié aflewering is reeds op 4 Maart opgeneem. Hoewel niks besonders daarin gebeur nie, is dit nogtans iets om te vier. “Die vervaardigers en skrywers kon nie die gewone gang van die karakters omverwerp vir die 3000ste episode nie, want dit sou nie sin maak in die gewone verloop van die storie nie,” vertel Tsholofelo Modise, 7de Laan se bestuurder vir publisiteit en openbare betrekkinge.

Maar die span en spelers het met koek en sjampanje gevier op die opnamedag en hulle gaan binnekort ’n partytjie hou om die uitsending te vier. “Ons span is baie opgewonde oor die bereiking van hierdie mylpaal. Baie TV-reekse haal nie eers die duisendste aflewering nie,” sê Tsholofele.

Volgende jaar staan 7de Laan ook behoorlik sy tienerskoene vol, want die sepie word 15 jaar oud.

Ons hoop om minstens nog 3 000 episodes ons gunsteling-karakters soos Oubaas, Hilda, Matrone, Charmaine en Maria te sien!