die skokaankondiging Donderdag dat 7de Laan dalk van Maandag af nie meer op die kassie te siene gaan wees nie, het die gewilde sepie pas gesê daar is dalk 'n ligpunt aan die einde van die tonnel omdat episodes reeds tot vroeg volgende jaar opgeneem is.

Rosa-Mari Erasmus, publisiteitbeampte van 7de Laan, sê die produksiehuis het tot Januarie episodes opgeneem. Hulle wag net vir ’n kontrak van die SABC om die episodes aan die uitsaaikorporasie te oorhandig.

Die episodes word in hierdie stadium teruggehou.

“As ons nie ’n finale kontrak in plek het nie kan ons nie episodes aan die SABC oorhandig nie,” verduidelik Rosa.

Sy het bevestig daar is ’n moontlikheid dat 7de Laan nie Maandag op die lug gaan wees nie omdat die produksiehuis in die stadium nog nie ’n finale kontrak ontvang het nie.

’n Werknemer by 7de Laan het aan Huisgenoot bevestig die SABC het slegs 7de Laan-episodes tot Vrydag.

Die akteurs, skrywers en produksiespanne het Donderdagoggend ’n brief ontvang waarin hulle aangeraai word om ’n ander plan met hul debietorders te maak, want dit lyk nie of hul salarisse volgende week betaal gaan word nie.

Nog ’n bron verduidelk die SABC sloer al sedert Augustus met die produksiehuis se kontrak. Die produksiehuis betaal tot dusver die werknemers uit hul eie sak.

’n Werknemer van 7de Laan verduidelik indien ’n nuwe kontrak nie in plek is nie kan die produksiehuis nie episodes aan die SABC verskaf nie omdat daar nie finansies is om die episodes te vervaardig nie – die hele situasie kring dan uit en werknemers kan ook nie vergoed word nie.

Die SABC se woordvoerder, Kaizer Kganyago, kan sedert Donderdagoggend nie bereik word nie.