“Dis basies my en Corné se lewe wat ons in ’n kabaret omskep het. Die karakters is op onsself gebaseer,” vertel Hildegardt. “Dié produksie neem jou op ’n reis van hoe ons grootgeword het met musiek en waar ons nou saam is,” sê Corné. Sy kom van Welgemoed in die Kaap en Hildegardt van die Weskus.

“Dis waar die naam Salmon en Snoek vandaan kom. Dis een storie wat deur twee mense uitgebeeld word, uit verskillende communities, maar ons is eintlik nogal dieselfde,” vertel Hildegardt.

Haar man, Kuba Silkiewics, het die musikale regie behartig en Corné en Hildegardt het elkeen ook ’n liedjie geskryf. Corné s’n heet Hero, en Hildegardt s’n Dis Stil.

“Waar die show sy oorsprong gekry het, is dat ons albei in ’n huis grootgeword het met ouers wat musiek maak en saamsing. Musiek bring eenheid. Musiek is daar wanneer jy hartseer, kwaad, gelukkig is . . . Dit wek enige emosie en ondersteun emosie, en kan enigiets sus,” meen Corné.

Ook Hildegardt voel dat musiek haar hartsnare roer. “Dis my happy place. As ek nie op ’n goeie plek is nie, dan sing ek vir myself. Musiek maak alles beter.”

Ná ure en naweke het die spannetjie getrou gerepeteer. “Wanneer ons tussendeur tonele by 7de Laan ontspan, sal ons ook ’n teetjie drink en ’n bietjie werk,” vertel Corné. “Slaap is opsioneel en nie ’n prioriteit nie.”

Toevallig is albei se gunstelingliedjies geskryf deur Michael Jackson. Corné se gunsteling is Black and White en Hildegardt s’n is The Girl is Mine.

& Dié opvoering is van 2 tot 5 April tydens die KKNK by Die Boer op Oudtshoorn te sien.