Nicholas Nkuna (28) vertolk die rol van Fikani Chauke, die nuwe eienaar van die gevestigde Theron & Terreblanche-winkel, in die SABC2-sepie 7de Laan.

Nicholas Nkuna (28) vertolk die rol van Fikani Chauke. Foto: Verskaf

Die voormalige akteur in Skeem Saam op SABC1 was ook ’n finalis in die BET-realiteitsprogram Top Actor. Danie Odendaal Produksies, die skepper van 7de Laan, het vir Nicholas ’n heeltydse kontrak aangebied vir die vertolking van dié rol.

7de Laan beskryf Nicholas se karakter as ’n man met sterk beginsels en wat nie nonsens vat nie.

Die akteur is welbekend in die Suid-Afrikaanse bedryf en het al Shaka Zulu in die musiekblyspel vertolk, sy verskyning in die Britse been van die wêreldwye The Lion King-toer gemaak, en in verskeie ander verhoog- en TV-produksies opgetree.

Nicholas, wat twee maande gelede by die 7de Laan-span aangesluit het, het die nuwe rol as “wonderlik en anders” bestempel. “Dit hou nuwe uitdagings in. Die rede dat ek die rol aanvaar het, is juis omdat ek wou wegbreek en iets nuuts leer,” sê hy.

Nicholas het Fikani as ’n wonderlike, sjarmante ou beskryf wat mal is oor mense en almal respekteer. “Al die vroue hou van hom!”

Nicholas was in 2015 en 2016 in Skeem Saam. Hy het ook die rol van Isaac vertolk in die telenovela Keeping Score op SABC2 en is te sien as Jamai in die nuwe dramareeks iNumber Number op Mzansi Magic (DStv-kanaal 161).