Rami Chuene het in ’n episode van die kletsprogram Real Talk with Anele (Mdoda) gesê sy was ses jaar oud toe sy vir die eerste keer mishandel is, en dit het tot op agtjarige ouderdom voortgeduur.

Rami het gesê sy het nou eers oor die traumatiese gebeure begin praat nadat sy haar memoires, We Kissed the Sun and Embraced the Moon, geskryf het.

“Ek moes in ’n hotel gaan bly toe ek daardie hoofstuk skryf. Ek het nie geweet in watter emosionele toestand ek sou wees wanneer ek terugkeer na daardie tyd nie, en ek wou nie hê my kinders moes my so sien nie,” sê sy.

Rami het verder gesê terwyl sy haar memoires geskryf het, het allerhande herinnerings oor daardie afgryslike tyd by haar opgekom. “Ek het begin onthou hoekom ek altyd enkellaagtoiletpapier en Vaseline verpes het – want die man wat my mishandel het, het daarvan gehou.”

Sy het die rol van Nomvula gespeel in 7de Laan as Nandi se ma. Sy het ook onder meer in Muvhango en Scandal gespeel.