Die naweek van 1 – 2 September het ses 7de Laan-akteurs afgevlieg Port Elizabeth toe om deel te neem aan die Radisson Blu Hotel in Port Elizabeth se fondsinsameling vir die Missionvale Water for Life-projek.

Die Missionvale gemeenskap van 8000 mense is een van die armstes in die Nelson Mandela Metropolitaanse Munisipaliteit.

Hulle het geen toegang tot skoon drinkwater nie en moet kilometres ver loop om water met die hand aan te dra. Met die naweek se veldtog is beoog om geld in te samel vir die verskaffing van watertenks aan die gemeenskap.

Heino Schmitt, Hildegardt Whites, Jo da Silva en haar dogter Caitlin, Melanie du Bois, Mimi Mahlasela en Werner Coetser het hulle tyd gratis beskikbaar gestel vir die naweek se bedrywighede.

Saterdagoggend het hulle handtekeninge uitgedeel en foto’s laat neem by inkopiesentrums in die stad, die middag was hulle deel van ‘n kookkompetisie en die aand het hulle uitgehang by ‘n glansete.

Sondag het die manne sokker gespeel met lede van die gemeenskap en die vroue het ‘n potjiekoskompetsie beoordeel.

Te midde van dié vol program, het ‘n hondsiek Jo da Silva nog tyd ingeruim vir ‘n Reach for a Dream-versoek. ‘n Jong dogter wat ‘n nieroorplanting moet kry se grootste droom was om Jo te ontmoet. (Sien foto bo)

Dié dapper 13-jarige, wat daagliks dialise en medikasie ontvang, se gunstelingprogram is 7de  Laan. Sy bewonder Jo se talent as akteur en haar uitmuntende uitbeelding van die aartsfeeks, Gita, en dit was haar grootste droom om haar te ontmoet. Dié twee het omtrent ‘n hond uit ‘n bos gekuier!