Daljinder se seuntjie is gebore nadat sy twee jaar vasgebyt het met in vitro-behandeling in ’n vrugbaarheidskliniek in die staat Haryana in die noorde van Indië.

Daljiner en haar man, Mohinder Singh Gill (79), het 46 jaar gelede getrou, maar ten spyte van talle wense en gebede was dit nie vir hulle beskore om ’n eie kind te hê nie.

Tot Daljinder die advertensie vir bevrugtingsbehandeling gesien het. “Ons het gedink ons moet dit probeer. Dis hoe graag ek my eie kind wou hê,” het die nuwe ma vertel. Om die kroon te span op Daljinder en Mohinder se kinderloosheid – wel, tot nou toe – is hulle deur talle as ’n bespotting beskou. In Indië word onvrugbaarheid soms as ’n vloek beskou. “God het ons gebede verhoor. My lewe is nou volledig. Ek het soveel energie dat ek self na die baba kyk.”

Volgens Daljinder is die nuwe pa baie hulpvaardig en vol omgee vir die aankomeling.

Hy is ook geensins gepla oor wat met hul babatjie sal gebeur as hulle tot sterwe kom nie.

“Mense gis oor wat sal met die kind gebeur. Maar ek het volle geloof in God. God is almagtig en alomteenwoordig; hy sal vir alles sorg,” het die bejaarde boer van Amritsar aan AFP gesê.

Anurag Bishnoi, wat in beheer van die vrugbaarheidskliniek is, was glo aanvanklik skepties oor Daljinder se gesondheid en wou nie die prosedure toepas nie. Maar haar toetsresultate, en in alle waarskynlikheid haar onwrikbare wens om ma te word, het hulle gerus gestel en daar is voortgegaan met die behandeling.

Die paartjie se eie sperm en eierselle is ingespan, en op 19 April het Amaan sy verskyning gemaak. Ná sy aanvanklike delikate gewig van 2 kg word hy nou as “gesond en wel” bestempel.

Daljinder is egter nie die oudste vrou in Indië wat ma geword het nie. In 2008 het ’n 72-jarige vrou van die staat Uttar Pradesh ma van ’n tweeling geword, ook danksy in vitro-vrugbaarheidsbehandeling.

Omkari Panwar en haar 77-jarige man, Cahran Singh Panwar het reeds twee volwasse dogters en vyf kleinkinders gehad, maar hulle was desperaat vir ’n seun en ’n erfgenaam.

’n Seuntjie en ’n dogtertjie is gebore.

Dan is daar ook Rajo Devi Lohan (74) wat op die ouderdom van 69 geboorte geskenk het aan Naveem. Haar grootste wens? Om haar dogter getroud te sien.

Bronne: yahoo.co.uk, dailymail.co.uk, afp.com, tribune.com.pk

Lees ook op Huisgenoot:

Sewejarige seun wat sy hare aan kankerpasiënte skenk word self daarmee gediagnoseer

Herleef binnekort ons grootste sportoomblikke by die South African Sport Hall of Fame in Sun City

Oud-Bokkaptein hang sy ‘tokse’ op

Dié wetenskaplikes versorg Wladimir Lenin se gebalsemde lyk teen R3 miljoen per jaar!

Suid-Afrikaanse perdebyspesie na Hollywood-ster vernoem

‘Dronk’ bestuurder gevang wat nege vriende in Citi Golf druk