Hy is dankbaar die tante het darem nog tot die einde van die jaar gehou, terg Bertus van Wyk terwyl hy sy vrou se hand styf vashou. Want al is sy rug dalk kromgetrek van die ouderdom, dans die duiweltjies steeds in sy oë rond.

Vir oom Bertus (97) en tannie Christine (91) was dit groot sake om die einde van 2009 te sien, want hulle wou saam ’n belangrike gebeurtenis vier: hul 70ste huweliksherdenking.

En watter fees was dit nie in die kerksaal van die NG kerk Floruana in Pretoria-Noord nie. Onder die 130 gaste was hul

7 kinders, 33 kleinkinders en 19 agterkleinkinders. ‘‘Wat ’n voorreg!’’ sê Bertus oorstelp.

Christine was sy eerste meisie, en toe ook sy enigste.

En die geheim van so ’n lang huwelik? Om die regte lewensmaat te kry, sê hulle. Bertus vertel hy het gebid vir die regte maat, tot hy haar gekry het. Deur hul huwelik het hy ook nog baie gebid: ‘‘En hoe meer ek vir haar gebid het, hoe liewer het ons vir mekaar geraak. En hoe mooier was sy vir my.’’

Christine se wange verkreukel in ’n skaam glimlag. ‘‘Ag, skat!’’ sê sy en vat aan sy hand.

Die kerk is net vier blokke van hul huis, en tot vyf maande gelede het hulle nog elke Sondag, ingehaak soos twee jong verliefdes, saam erediens toe gestap. Maar die tannie se been pla nou so ’n bietjie en sy bly maar by die huis, vertel oom Bertus.

Maar hy stap nog onder meer elke Saterdag om seweuur die oggend na die biduur toe.

Want Bertus weet nie van stilsit nie. Trouens, dié afgetrede predikant wat sterk glo hy is die oudste lewende NG dominee in die land, lei nog een van die selgroepe in die gemeente.

Bertus is een van die eerste vyf teologiestudente wat in 1940 ’n B.D.-graad aan die kweekskool van die Universiteit van Pretoria verwerf het. En dit was juis op dié kampus in 1936 dat hy die pragtige student, wat nou al 70 jaar sy lewensmaat is, raakgesien het.

Christine het maatskaplike werk geswot, en Bertus het besluit om nie gras onder sy voete te laat groei nie. Hy het haar sommer die eerste Vrydag genooi vir tee in Japie se Kafee en toe ook sommer om saam met hom kerk toe te gaan.

En ná kerk het sy gretig ‘‘ja’’ geantwoord toe hy haar vra om sy nooientjie te word. ‘‘Want sien, sy het toe die hele tyd ’n ogie op my ook gehad!’’ skerts hy.

Net soos met die nooientjievraery het hy ook met die groot vraag nie voete gesleep nie, en drie jaar later, op 30 Desember 1939, het hulle voor die kansel gestaan.

Bespreek vir Skouspel!