Luidens berigte het ’n denneboom in sterk wind op een van die kabels geval. Die kabel het gebreek, die karretjie het wild begin rondswaai en die insittendes het sowat 30 m ver geval.

Die voorval het Sondag by die gewilde Gulmarg ski-oord in Kasjmir, Indië, plaasgevind. Gulmarg is in die Himalaja-gebergtes geleë en is ’n toevlugsoord vir toeriste om die warm somer te ontsnap.

’n Jong Indiese paartjie en hul twee kinders het gesterf. Jayant Anderaskar, sy vrou, Manisha, en hul dogters Anagha and Jhanvi was van Shalimar Bagh in Delhi. 

Mukhtar Ahmed Ganie, Javed Ahmed Khandey en Farooq Ahmed was die ander drie, vermoedelik toergidse. Nog vier mense, waarvan een kritiek, is na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Sowat 150 passasiers was gestrand in van die ander kabelkarretjies terwyl daar herstelwerk aan die diens verrig is.

Intussen het dit bekend geword dat die maatskappy verantwoordelik vir die kabelkarretjies, Sondag as ’n “daad van God” beskryf.

Riyaz Ahmad, die bestuurder, het aan Tribune India gesê dat hulle nie die stelsel aktiveer wanneer daar baie sterk wind is nie. Daar is glo ook ’n ingeboude veiligheidstelsel wat verhoed dat die karretjies beweeg as daar rukwinde is.

Alhoewel hy Sondag as ’n helder sonskyndag beskryf, het hy gesê ’n “denneboom is deur skielike sterk wind ontwortel en dit het nog ’n ander groot denneboom getref.” Volgens hom was dit een van daardie boom se takke wat op die kabel beland het.

Hy ontken dat die karretjie op die grond beland het, maar dat die oorledenes uit die karretjie geval het nadat die vensters daarvan gebreek het.

Meer oor die Gulmarg-kabelkarstelsel

  • Die Gulmarg-kabelkarstelsel is een van die hoogste en langste in Asië. Op die hoogste punt is dit 400 m bo die grond.
  • Gulmarg beteken “veld van rose” en is 60 km van Srinagar.
  • Dit is die tweede hoogste kabelkarstelsel in die wêreld nadat die Mérida-kabelkarstelsel in Venezuela in 2008 gesluit het.
  • Gulmarg bestaan uit twee fases. Die eerste fase neem passasiers van die Gulmarg-oord wat 2 600 m hoog is, na die Kongdori-stasie.
  • Die tweede deel van die rit vind plaas van ’n hoogte van 3 747 verder op teen die Kongdori-berg.
  • Die oord is deur Condé Nast as die beste ski-bestemming in Indië beskryf.

Bronne: rt.com, cnn.com, tribuneindia.com, hindustantimes.com