Nog 42 slagoffers is geïdentifiseer van oorskot wat van die ongelukstoneel verwyder is waar die Malaysia Airlines-vliegtuig neergestort het. ’n Operasie om liggaamsdele te verwyder is uitgestel weens konflik tussen die Oekraïense regering en pro-Russiese separatiste.

“Van die slagoffers was 21 Nederlands en die ander 21 van ander nasionaliteite,” het die justisiedepartement in ’n verklaring. “Die spesifieke nasionaliteite van die ander slagoffers word op aanvraag van die lande se ambassades geheim gehou,” het dit bygevoeg. Die koördineerder van die forensiese ondersoek, Arie die Bruijn, het Vrydag gesê sowat 176 “min of meer” volledige lyke het in Nederland aangekom, asook 527 ander liggaamsdele.

'’n Span spesialiste werk onverpoosd...'

“’n Span spesialiste werk onverpoosd, maar dit kan maande duur voor elke slagoffer geïdentifiseer is,” het die Nederlandse regering gesê.

Intussen keer die laaste Nederlandse, Australiese en Maleisiese ondersoekers terug na Nederland, het die nasionale nuusagentskap ANP berig.

Die finale vlug van terugkerende polisie-ondersoekers, insluitend die hoof van die Nederlandse polisiespan in die Oekraïne, Pieter-Jaap Aalbersberg, sou na verwagting laat Saterdagaand in die suidelik stad Eindhoven land.

Die Nederlandse eerste minister, Mark Rutte, het Woensdag gesê die soektog na liggaamsdele by die ongelukstoneel word uitgestel weens toenemende geweld in die gebied.

Die Malaysia Airlines-vliegtuig het op 17 Julie oor die Oekraïne ontplof. Al 293 passasiers, waarvan 193 Nederlanders was, is dood, en die Weste beskuldig separatiste dat hulle dit afgeskiet het.

Meer as 220 lyke is terug Nederland toe vervoer vir identifisering.

- Sapa