Netwerk24 berig die man, wat na regtens nie geïdentifiseer mag word alvorens hy op die aanklagte teen hom gepleit het nie, het die weefsel van meisies moontlik so jonk as sewe in sy vrieskas gehou.

Hy staar nou twee aanklagte van seksuele aanranding, een van gewone aanranding en een van intimidasie in die gesig. Hy word ook aangekla van die onwettige besit van menslike weefsel wat van 'n lewende of dooie mens verwyder is.

Adjudantoffisier Linda Steyn het 'n beroep op die publiek gedoen dat enige vroue wat dalk 'n slagoffer van die man was, na vore sal kom voor sy borgaansoek op 28 September aangehoor gaan word.

Die polisie ontsien egter nie die moontlikheid dat die man die verminking met die vroue se toestemming uitgevoer het nie.

Daar is in die man se meenthuis in Eden Glen in Langenhovenbark, Bloemfontein, etlike foto's gevind, sommige van baie jong meisies. Videomateriaal is ook gevind waarop gewys word hoe hy 'n "operasie" op 'n vrou doen.

Die vermoede bestaan dat die man glo in Denemarke geleer het hoe om sulke operasies uit te voer. Hy bedryf 'n wapenwinkel in die stad. Kort voordat hy Maandag in die hof verskyn het, het hy in 'n onderhoud met twee Deense joernaliste al die skuld op sy vrou gepak en gesê dis sy wat stukkies van vroue se geslagsdele uitgesny het.

Hy het die polisie vertel vroue kom van Lesotho af na hom toe vir die "operasie" eerder as om aan tradisionele inisiasies in hul land deel te neem.

Die polisie ondersoek terselfdertyd ook die gerug dat die man deur Deense owerhede gesoek word vir 'n uitstaande klag teen hom wat spruit uit 'n onwettige wapentransaksie. Hy het glo na Suid-Afrika gevlug om die aanklagte in Denemarke te ontduik.

Hy word ook verbind met twee onopgelosde moorde in Lesotho.

Tydens sy inhegtenisname is daar beslag gelê op die man se selfoon, etlike foto's sowel as chirurgiese instrumente.

Bronne: Netwerk24; News24