Die viool wat tot op die nippertjie gespeel het voor die Titanic in die oseaan verdwyn het, het pas ’n rekordprys van R14 miljoen op ’n veiling gehaal. Dit is deur ’n Britse versamelaar gekoop.

Die viool is 14 dae ná die tragedie gekry in ’n kissie wat aan die leier van die orkes, Wallace Hartley, se lyf vasgemaak was. Maar watter ander Titanic-aandenkings is ook vir ’n klein fortuin van die hand gesit?

Die plan van die skip

Die 32 voet lange skeepsplan is gedurende die ondersoek na die ramp gebruik. Dit is in 2011 vir sowat R3,5 miljoen verkoop. Die ondersoek wat in Mei 1912 gedoen is, het onderhoude met sowat 100 ooggetuies en verklarings van verskeie maritieme kenners ingesluit.

Edmund Stone se sakhorlosie

Edmund was ’n eersteklaskamerbediende wat in die tragedie omgekom het. Sy horlosie, wat aan sy liggaam gekry is, se wysers op 02:16 gevries. Die horlosie is in Oktober 2008 vir R1,5 miljoen verkoop.

Kraaines se sleutels

Die sleutels vir die sluitkas in die kraaines van die skip waarin die verkykers toegesluit is, is in 2009 vir R1,4 miljoen verkoop. Die sleutels het agtergebly in die sak van die bemanningslid David Blair, wat op die nippertjie nie meer die reis kon meemaak nie. Hy het vergeet om die sleutels aan sy plaasvervanger te oorhandig. In ’n latere ondersoek is een van die bemanningslede gevra of die verkyker sou gehelp het om die ysberg te sien. Fred Fleet het gesê dit sou gehelp het om die skip betyds uit die pad te kry.

Hoofsleutel vir kajuite E1 – E42

Die stel sleutels vir kajuite E1 – E42 is ook by Edmund Stone gekry omdat hy vir daardie deel verantwoordelik was. Dit is in 2008 vir sowat R1,3 miljoen verkoop.

Spyskaart van die laaste middagmaal

Die spyskaart het 40 verskillende keuses gebied en is gevind in die handsak van Ruth Dodge, ’n eersteklaspassasier wat die tragedie saam met haar man, die bankier dr. Washington Dodge, en hul seun oorleef het. Dit is verlede jaar vir sowat R1 miljoen verkoop.

Bron: paulfrasercollectibles.com

Deur Marelize Potgieter