Een, twee, drie, vier, vyf, ses! Dis hoeveel seuns om Robert (47) en Danell (42) van Driel se etenstafel sit. En vanjaar is hulle al ses op skool.

Leendert (19) en Leon (17) is in die Hoërskool Parel Vallei, terwyl RW (15) in Paul Roos is. Die drie jongste boeties, Ernand (13), Rayner (10) en Durand (6), is in die Laerskool De Hoop. Die broers kom goed oor die weg, sê ma Danell, al verskil hul persoonlikhede.

Robert is ’n produksie-ontleder en Danell kry opleiding as ’n haarstilis sodat sy van die huis af kan werk.

Die eerste vier seuns was beplande swangerskappe, vertel sy. “Toe stop ons! Maar toe raak ek swanger op voorbehoeding . . . ek was nie te gelukkig nie; ek het gedink ons is klaar!” Maar toe sy die baba (ook ’n seuntjie) op 18 weke verloor ná komplikasies, het sy besluit sy wil nog ’n baba hê, wat toe ook ’n seuntjie is!

“Toe was hulle vyf seuns. Daar was een opening by die etenstafel en nommer 5 het niemand gehad om ’n kamer mee te deel nie.” En ook nommer 6 was toe ’n seuntjie. Danell  het normaal die lewe geskenk aan die eerste vyf, maar moes ’n keisersnee kry met Durand.

Die gesin se drie-slaapkamerhuis  het ook ’n woonstel met twee slaapkamers en ’n badkamer wat Leendert en RW deel. Leon het ’n buitekamer en sy eie badkamer, Ernand het een kamer in die huis en Rayner en Durand deel ’n kamer.

Eet hulle haar nie uit die huis uit nie? “Hulle eet altyd iets; so ek probeer vrugte in die huis hou. ’n Boks Weet-Bix hou twee dae en ons gaan deur drie brode per dag!”

Maar elke seun pak sy eie kosblik. “Ek doen dit nie; al die bestellings vat heeltemal te lank!”

Vervoer skool toe is darem ook nie ’n te groot uitdaging nie. Leendert en Leon het motorfietse waarmee hulle ry. RW ry skoolbus Stellenbosch toe en word baie naby aan die huis op- en afgelaai. En die drie jongstes se skool is net oorkant die pad; so hulle stap sommer. “Ons het ’n Chrysler-sewe-sitplek-ryding, maar dit gebeur baie min dat ons al agt saamreis en as dit nodig is gebruik ons die tweede voertuig ook.”

Sy wens soms sy het ’n dogter gehad, sê Danell. “Hoe moeilik kan dit wees? Maar vir nou sien ek uit na al die skoondogters!”