Die Tweede Wêreldoorlog was nog in volle swang en die wapen aan boord van die Enola Gay was veronderstel om onder meer ’n einde aan die oorlog te bring.

Sommige het dit as ’n noodsaaklike euwel bestempel, maar die vraag bly staan of enigiemand besef het watter ongelooflike euwel dit sou word.

Daar is reeds voor die uitbreek van die oorlog in 1939 met die ontwikkeling van kernwapens deur ’n groep Amerikaanse wetenskaplikes begin. Verskeie van die spanlede was vlugtelinge van Europa wat betrokke was by kernwapen-navorsing in die destydse Nazi-Duitsland.

Vroegoggend, 16 Julie 1945, het die Manhatten-projek die eerste suksesvolle toets van ’n plutoniumbom by die Trinity-toetsterrein by Alamogordo in Nieu-Mexiko uitgevoer.

Minder as ’n maand later het die Enola Gay om 08:15 haar dodelike ‘klein seuntjie’ op ’n hoogte van sowat 500 meter bo Hirosjima vrygelaat.

Die plofkrag van die bom word gelykgestel aan 12 000 tot 15 000 ton plofstof.

Toe die bom 43 sekondes later ontplof, het dit ’n vuurbal gevorm waarvan die hitte tot 4 000 ?C gestyg het. Die skokgolf het vinniger as die klankgrens beweeg.

Hirosjima, met talle geboue wat uit hout en papier gemaak is, is feitlik van die aardbol geveeg met een felle, dodelike kombinasie van klank, hitte en bestraling. Meer as agt vierkante kilometer van die stad is vernietig.

Die Enola Gay, in hierdie stadium meer as 18 km van Hirosjima, is deur die ontploffing geruk.

“Die stad was verskuil deur daardie aaklige wolk . . . kokend, wat soos ’n sampioen ontplooi het, aaklig en ongelooflik hoog,” outhou Tibbets.

Onder op die grond het diegene wat die naaste aan die ontploffing was, onmiddellik gesterf, hul liggame swart verbrand. Voëls in die lug het in vlamme uitgebars.

Verder van die kern van die ontploffing het slagoffers eerste die flits gesien, die hitte gevoel en toe daardie oorverdowende ontploffing en klankgolf.

Die wit lig van die ontploffing was soos ’n reuse flitslig. Dit het donker patrone op klere op mense se lywe vasgebrand. Selfs mense se skaduwees is in mure vasgebrand.

Swart reën het gevolg en dit het die bestraling verder versprei.

Meer as 90 persent van Hirosjima is vernietig. Hoeveel mense omgekom het, kon nog nooit finaal vasgestel word nie. Sowat 70 000 het in die ontploffing en as gevolg van bestraling gesterf. Teen die einde van 1945 het die dodetal 100 000 oorskrei.

Op 9 Augustus styg die volgende Amerikaanse B-29-bomwerper, die Bockscar, met majoor Charles Sweeney in beheer, op.

Nagasaki was nie die oorspronklike teiken vir die ‘vet man’ nie. Kokura Arsenal was. Maar swak sig as gevolg van rook en dynserigheid laat Sweeney die Bockscar na die tweede teiken draai: Nagasaki. Om 11:02 tref die 160 000 kg bom sy teiken.

Soos in die geval van Hirosjima is die dodetal onseker maar onmiddelike sterftes word op 40 000 gereken. Vyf jaar later het dit in alle waarskynlikheid tot 140 000 gestyg.

Op 15 Augustus 1945 kondig Hirohito die oorgawe van Japan aan.

Agt kitsfeite rondom die atoombomaanvalle

1. Die Amerikaanse president, Harry S. Truman, het die kernbomaanvalle beveel nadat Japan die Potsdam-verklaring verwerp het.

2. Die Amerikaanse lugmag het strooibiljette in Hirosjima afgegooi waarin hulle gewaarsku word dat daar ’n bomaanval sou plaasvind.

hirshoma warning

3. Daar was sianied-tablette vir die bemanning aan boord van die Enola Gay, sou die sending misluk het.

4. Die Enola Gay is na Paul Tibbets se ma vernoem.

5. Net een man het beide aanvalle oorleef: Tsutomi Yamaguchi. Hy het ná die aanval op Hirosjima na sy tuisdorp, Ngasaki, gevlug. Hy is in 2010 oorlede.

6. Die name van die twee kernbomme was afkomstig van die fliek “The Maltese Falcon”.

7. Ginkgo biloba-bome het die bomaanval op Hirosjima oorleef.

8. Gerugte wil dit hê dat die Amerikaanse sekretaris van oorlog, Henry Stimson, veroek het dat Kokura Arsenal nie geteiken moet word nie omdat hy daar op wittebrood was.

Bronne: history.com, ctbto.org, osti.gov, ibtimes.com, learnodo-newtonic.com