Polisie in Orlando, Florida, het bevestig dat tot soveel as 50 mense dood en 52 ander beseer is in ’n nagklub hier nadat ’n gewapende man op partytjiegangers losgebrand het.

Orlando se polisie het ook bevestig dat die aanvaller binne in die Pulse Club, ’n gewilde gay-klub in die hartjie van die stad, doodgeskiet is. Die polisie het van meet af aan die voorval as een met "talle slagoffers" hanteer.
Die aanvaller, geïdentifiseer as Omar Saddiqui, het in die vroeë oggendure die klub binnegegaan en mense voor die voet begin skiet. Die klub het almal dadelik op hul Facebook-blad gemaan om te vlug en "aan te hou hardloop". Die polisie, insluitend ’n bomeenheid, was spoedig op die toneel. Die nagklub is bestorm en ooggetuies vertel dat ontploffings en geweerskote gehoor is.

Een partytjieganger, Anthony Torres, vertel hy het skote gehoor en toe dadelik padgegee. "Die skote het nie geklink of dit van ’n gewone vuurwapen is nie," het Anthony aan CNN gesê. "Dit het geklink of dit herhaaldelik skiet; dit wou nie ophou nie."

Dit was die dodelikste massaskietvoorval in Amerika en die ergste tereuraanval sedert 9/11.

Familielede en vriende wag angstig op nog nuus van owerhede oor die welstand van hul geliefdes, waarvan talle nog binne die nagklub vasgekeer is.

Die nuus volg skaars ’n dag nadat die sangeres Christina Grimmie kort ná ’n vertoning in Orlando deur ’n onbekende man doodgeskiet is.

Bronne: CNN; BBC; SkyNews