Hier is vyf lesse wat honde ons van die lewe kan leer.

Leef in die oomblik

’n Hond het beslis ’n goeie geheue. Kom jy net naby die kas waarin jy sy koekies bêre, begin sy oë al smeek daarvoor. Maar honde is ook uiters bekwaam om in die oomblik te leef. Wanneer hy ’n bal jaag, is die verlede vergete en geniet hy die oomblik ten volle.

2.       Wees vergewensgesind

Het jou hond al geweier om jou by die voordeur in te wag wanneer jy tuiskom omdat jy nie die vorige aand met hom gaan stap het nie? Honde vergewe en vergeet enige onreg.

3.       Hê lewensvreugde

Het jy al gesien hoe ’n hond uitbundig spring oor die vooruitsig om ’n bal te jaag? Dink net hoe lekker dit sal wees as mense ook kan rondspring wanneer ons opgewonde is. Moenie dat die lewe so vinnig by jou verbygaan dat jy vergeet om klein vreugdes te vier nie.

4.       Aanvaar jouself

Verbeel jou ’n labrador wat wens sy ore het meer na ’n foksterriër s’n gelyk of ’n bulhond wat ’n windhond se lyf beny. Die mensdom bestee baie tyd en geld daaraan om te voldoen aan wat ander mense dink die ideale lyf of voorkoms is, pleks dat ons ons unieke gelaatstrekke, lewe en selfs probleme aanvaar.

5.       Wees onvoorwaardelik lief

Jou hond se onvoorwaardelike liefde is onstuitbaar. Hy sal sy stert swaai wanneer hy jou sien, ongeag jou bui. En hy sal jou vergewe, selfs al het jy jou sleg gedra. Dis moeilik om ander mense onvoorwaardelik lief te hê, maar dit kan ons beslis by ons hondevriende leer.

Bronne: huffintonpost.com, dailytimes.com, beliefnet.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.