Die mynskag is ongeveer 50 jaar gelede gesluit en is na bewering sowat drie weke gelede weens swaar reënval blootgelê.

Die seuntjie en ’n maatjie van Jerusalem, ’n nabygeleë township, het glo in die omgewing gespeel toe hy skielik by die skag afval. Die maatjie het om hulp gaan roep en die gemeenskap het die nooddienste ontbied.

“Ek het ongelukkig nog geen goeie nuus nie,” het William Ntladi, woordvoerder van Ekurhuleni se ramp-en-noodbestuur, aan huisgenoot.com gesê.

 

Volgens hom gaan hulle voort met reddingspoging.

“Ons sal nie rus tot ons hom gevind het nie.”

Die skag is ongeveer 140 meter diep tot by die watervlak, wat dan ’n verdere 70 meter diep is.

“Dit is ’n kollektiewe spanpoging tussen ’n mynreddingspan, die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD) en die polisie. Almal werk voltyds om die seuntjie uit die skag te red. Alle moontlike hulpbronne word ingespan vir die reddingsoperasie. Ons is nog hoopvol”.

Hy het ook die inwoners versoek om die reddingswerkers genoeg ruimte te gee sodat hulle die operasie kan uitvoer.

Ontstelde inwoners van die gebied het laat Saterdag die strate ingevaar uit protes nadat die seuntjie vroeër die middag by die skag ingeval het.

Kaptein Makhubele, provinsiale woordvoerder van die SAPD, het bevestig dat die polisie tans die situasie onder beheer het.

“Daar is sedert die protes ’n saak van openbare rusversteuring en twee sake van opsetlike saakbeskadiging aanhangig gemaak,” het Makhubele verduidelik.

Polisielede op die toneel die hou die situasie dop.