Maar die Olimpiese kampioen Kirani James (20) is tog ’n bietjie teleurgesteld dat Oscar nie Sondag die opening bygewoon het nie. Die Suid-Afrikaanse Paralimpiese atleet neem nie tans deel nie omdat hy vir sy moordverhoor voorberei.

’n Jaar gelede was die lemnaeler een van dié gesigte van die Olimpiese Spele in Londen. Toe het Oscar die stampvol stadions bekoor – met sy deursettingsvermoë eerder as met sy prestasies.

Kirani het selfs by die Spele in Londen met Oscar naamblaadjies uitgeruil net om ’n aandenking te hê. Die verdedigende wêreldkampioen van Grenada het onlangs weer op Oscar se frokkienommer afgekom toe hy by ’n nuwe woonstel intrek. Hy wil dit nou raam.

“Die sport kom iets kort met dié dat hy nie hier is nie,” het Kirani, wat met die naasbeste tyd gekwalifiseer het, gesê. “Ek het hom nog altyd as ’n inspirasie beskou – nie net vir sport nie, maar ook die lewe. Dit maak nie saak maak waar jy vandaan kom of watter gestremdheid jy het nie, jy kan steeds iets doen waarvoor jy lief is en goed wees en trots wees dat jy dit doen. Hy bevind hom in ’n uitsonderlike situasie. Ek sal vir hom bid.”

Oscar word van moord met voorbedagte rade aangekla in verband met die skietdood van sy meisie, die model Reeva Steenkamp, op Valentydsdag vanjaar. Hy sal op 19 Augustus weer in die hof verskyn – ses dae ná die eindwedloop in die 400 m vir mans by die wêreldbyeenkoms.

As hy skuldig bevind word, kan Oscar lewenslange tronkstraf opgelê word, ’n minimum van 25 jaar.

Oscar het hom aan alle wedlope vanjaar onttrek terwyl hy op sy hofsaak fokus. Hy ontken skuld op die moordklag en voer aan hy het gedink Reeva is ’n inbreker.

Die belowende Suid-Afrikaanse 400 m-naelloper Wayde van Niekerk het gesê hy kan nie oor die Oscar-sage praat nie omdat hy Oscar nie persoonlik ken nie. Wayde kon nie daarin slaag om na die volgende ronde deur te dring nie.

Toe LaShawn Merritt (27) van Amerika oor Oscar gevra is, het hy gesê hy konsentreer eerder op die baan as op wie by die wegspringstreep aantree.

“Ek gee nie juis baie aandag aan mense nie,” het LaShawn, wat met die beste tyd gekwalifiseer het, gesê. “Dis ’n individuele sport. Ek gaan doen my ding, want ek is die enigste een wat probeer wen. Ek is die een wat die werk insit. Ek is die een wat moet hardloop. Na my mening gaan alles oor my.”

– Sapa/Pat Graham

sapalogo