Volgens Jornal Noticias het ’n boom ’n kind doodgeval in Massinga in die Inhambane- provinsie. Die tropiese laagdrukgebied, voorheen bekend as Dineo, is van ’n kategorie 4 tropiese sikloon tot ’n tropiese laagdrukgebied afgradeer nadat dit Woensdagaand naby Inhambane die land bereik het.

Kundiges sê dit hou steeds groot gevaar in, al het dit na die binneland beweeg. Weerkenners in Suid-Afrika sê al is die storm deklasseer en is die draaikolk minder sigbaar, moet mense steeds die volgende 48 in hul pasoppens wees.

Die Mosambiekse joernalis Zenaida Machado het ook berig 16 dolfyne het Dinsdag op Inhassoro in Inhambane gestrand. Ten spyte van reddingspogings het net agt van hulle oorleef.

Onheilspellende wolke

Sterk wind, spoelreën, vloede en baie rowwe seetoestande kan steeds verwag word, het die weerdiens bekendgemaak.

StormReportSA het op Facebook gesê windspoed van tot 60km/h is Donderdag in die Noord-Kaap aangeteken. Facebook-gebruikers in gebiede in Mpumalanga en op Richardsbaai in KwaZulu-Natal het foto’s van onheilspellende wolke geplaas. Brian Jefferies, ’n Suid-Afrikaner wat in Mosambiek bly, het uit Inhambane ’n video gedeel van die ernstige nadraai van die storm.

  “Daar is vandag ’n ál groter gevaar van swaar reënbuie en donderstorms oor die Laeveld en platorandstreke van Mpumalanga en Limpopo, veral teen die aand en oornag, wanneer baie swaar reën van 100 tot 200 mm oor die oostelike helfte van die Limpopo-provinsie verwag kan word,” het die Suid-Afrikaanse Weerdiens in ’n verklaring gewaarsku.

Dit sal na verwagting tot Vrydagaand aanhou. Daar word voorspel die stelsel sal teen Saterdag na Botswana en Namibië beweeg.

Bron: News24