Francisco Delgado III, ook bekend as “Baby Frankie”, het verlede week saam met sy ouers by die Texas City-dyk in Texas gaan swem.

Francisco, glo reeds ’n kranige basketbalspeler, het ná sy swemsessie gekla sy maag pyn, berig Daily Mail.

Later in die week het dinge vererger. Volgens Metro.co.uk, ’n Britse aanlyn blad, het die seuntjie begin opgooi en maagwerkings gehad.

Die 4-jarige is as gevolg van ’n seldsame siekte dood.

Daarna het dit gelyk asof hy aan die herstel was.

Dit was egter nie die geval nie. Francisco se pa, ook Francisco, het vertel sy seuntjie het Saterdagoggend begin kla oor sy skouers pyn, maar toe aan die slaap geraak.

Die kind het enkele ure daarna weer wakker geword met kwaai pyn.

“Hy het wakker geskrik en ‘aa’ geskree. Hy het sy laaste asem geneem en ek het nie meer geweet wat om te doen nie,” het sy pa aan Daily Mail gesê.

Francisco is daarna inderhaas hospitaal toe geneem.

Tara, Francisco se ma, sê toe sy in die hospitaalkamer instap, kon sy sien hoe hulle aan haar seun werk.

Daily Mail berig Tara het gedink al wat haar seun dalk nodig het, is sy ma se aanraking. Maar dit was vergeefs.

“Toe die dokter inkom, het sy vir ons gesê dis ’n geval van ’n droë verdrinking. Sy longe was vol vloeistof. Daar was niks wat hulle vir hom kon doen nie,” het sy vertel.

’n “Droë verdrinking” is ’n seldsame mediese toestand wanneer iemand water deur hul neus of mond inkry. Dit lei tot ’n spasma in die lugpyp met die gevolg dat dit heeltemal toegaan. Dit is dan onmoontlik om asem te haal, berig Parents.com.

Droë verdrinking kom hoofsaaklik by kinders voor omdat hul liggaam so klein is.

Bronne: Daily Mail, Metro.co.uk, Parents.com