Om saans voor slapenstyd saam met jou kleuter deur storieboeke te blaai is ’n onmisbare voorreg in elke ouer se lewe.

Maar blinde kinders het nie altyd hierdie geleentheid nie, en al kan hulle later in hul lewe met behulp van braille leer lees, verbeur hulle dikwels die genot van kleintyd deur prentjieboeke blaai.

Boonop is prentjieboeke sonder teks ’n belangrike stap in kinders se leerproses.

Gelukkig het navorsers aan die Universiteit van Colorado in Amerika met slim nuwe 3D-tegnologie vorendag gekom wat die kinderboeke se blaaie met spesiale teksture bedruk sodat blinde kinders die stories kan “voel”.

So sal kleingoed byvoorbeeld die vorm van die halfmaan en die koei wat daaroor spring se kolle en horings kan voel en hul verbeelding kan gebruik om die prentjie in te kleur.

Volgens die navorsers was dit ’n logiese stap, aangesien gesiggestremde kinders dikwels eers op sesjarige ouderdom braille leer lees; daarom was dit nodig om kinders meer blootstelling te gee tot hulle aan Braille bekendgestel word.

Op die oomblik is die 3D-drukkers wat die boeke druk nog besonder duur, maar navorsers hoop dat die boeke meer bekostigbaar sal raak namate die idee posvat.

Vir nog inligting oor die boeke, besoek http://www.tactilepicturebooks.org/

Bronne: Elite Daily, University of Colorado News, Daily Mail