Die seldsame toestand wat toe hul bestaan begin ontwrig het, steek kort-kort kop uit ... en dan is Sally Hobson van Surrey, Engeland, weer van haar kosbaarste herinneringe kwyt.

Die nou 39-jarige donkerkop het daardie wintersaand - hulle was nog nie eens twee jaar getroud nie en het fluks gesinsplanne beraam - langs Neil ingekruip en net begin gesels toe iets vreemds gebeur.  Sy het haar woorde heel duidelik uitgespreek... maar hulle het geen sin gemaak nie.

Haar skerpsinnige, altyd sorgsame man het binne 'n oogwink besef daar skort iets ernstigs en onmiddellik 'n ambulans ontbied.

In die hospitaal het dokters eers gereken beroerte was dalk die sondaar, maar nadat haar lyf onbedaarlik in die ongevalle-afdeling begin ruk het, was hulle verplig om haar in 'n geïnduseerde koma te plaas.

Toe sy ná ses weke in 'n neurologiese saal, met Neil (nou 41) pal aan haar sy, weer ontwaak, was meer as vyf jaar van haar lewe basies 'n skoon geveegde lei. Sy kon niks uit daardie tydperk onthou nie, byvoorbeeld ook nie haar huwelik nie, en gebeure nog heelwat verder terug was ook eers baie vaag.

Sy het aanvanklik nie geweet wie talle van haar geliefdes was nie. "Ek het nog vir die verpleegster gesê, 'Die dokter daar oorkant is baie gaaf.' Maar dit was Neil...'' het Sally onlangs vertel toe sy die eerste keer haar beproewing met Britse media deel.


Ná behandeling en baie voortdurende aandag van 'die dokter' het sy wel met verdrag besef dat - al kon sy nie hul lewe saam behoorlik onthou nie - sy tog vir Neil ken en hom liefhet.

Noudat sy met 'n baie sonderlinge vorm van epilepsie gediagnoseer is, wat ook met 'n virale infeksie destyds verbind is, kan aanvalle haar tot sewe keer per maand tref... en elke keer word 'n deel van haar geheue uitgewis.

"Hierdie toestand is so onregverdig. Ná aanvalle sit ek met kwaai lang- sowel as korttermyn-geheueverlies. Elke episode neem 'n stukkie meer van my lewe weg. Ek onthou nie my troudag, verjaardae of stokperdjies wat ek gehad het nie,'' het die voormalige kleinhandelsbestuurder vertel.

Sy sal byvoorbeeld onthou hoe om alledaagse dinge te doen soos om aan te trek en tande te borsel, maar talle sleutelgebeure in haar lewe is al uit haar gedagtes gewis. Sy vergeet ook name en gebeure kort nadat hulle plaasgevind het. Boek lees is dikwels vir haar sinloos, want sy vergeet die aanvanklike paragrawe nog voor sy die tweede hoofstuk bereik het.

Sulke geheueverlies laat 'n mens dikwels verward en alleen voel, het sy probeer verduidelik. "Dis swaar om die kyk in iemand wat jy liefhet se oë te sien wanneer jy hulle sê jy onthou nie iets wat vir hulle kosbaar is nie... Jy reken op ander om jou van jou verlede te vertel, jy leef dikwels basies in 'n storieland.

"Neil het my ons troufoto's al oor en oor gewys...''

Sally moet voortdurend 'n klomp epilepsiemedisyne neem, is meestal tuis en het al byvoorbeeld ná 'n aanval bebloed op die badkamervloer wakker geword. Maar sy tel ook haar seëninge, waaronder 'n toegewyde man ("my redder"), familie en vriende wat haar kwesbare geheue onvermoeid help verfris.

"Ek mag dalk nie altyd die verlede onthou nie en sukkel om vooruit te beplan, maar ek leer dankbaar wees vir elke oomblik in die hede," het sy gesê.

Bronne: Epilepsy Society, postperhour.com, MailOnline, Facebook, YouTube,