CNN berig minstens 38 mense is dood en 13 ander is beseer. Een van die twee voetgangers wat die bestuurder vroeër getref het, is ook dood.

Die voorval het Sondag in Mapou plaasgevind. Die bus was glo op pad vanaf Cap-Haïtien na die hoofstad Port-au-Prince in die Artibonite-streek.

Die bus het glo drie groepe musikante en omstanders getref voordat dit tot stilstand gekom het. Die bestuurder het uitgespring en gevlug.

Owerhede soek nog na hom.

Volgens ooggetuies was mense steeds onder die bus vasgekeer toe dit eindelik tot stilstand kom. "Jy kon liggame, verlore arms en mense met oopgerukte mae sien lê," het ’n man, net bekend as Rigorov, gesê.

"Jy kon mense hoor huil en smeek om hulp, maar ek kon nie onderskei tussen wie lewe nog en wie is dood nie."

Reuters berig 34 mense is op die toneel dood en vier is later in die hospitaal dood verklaar. Die passasiers op die bus is na ’n plaaslike polisiekantoor gebring vir ondervraging terwyl die oorsaak van die ongeluk nog ondersoek word.

Ontstoke bystanders wou die bus - nog met die passasiers daarin - in weerwraak aan die brand steek. Die busbestuurder het volgens bronne waarskynlik ook gevlug uit vrees dat hy dadelik doodgemaak sal word.

Gonaïves is sowat 150 km vanaf die hoofstad Port-au-Prince

Bronne: Reuters, CNN, BBC