Dit lyk alledaags op papier – ’n man en sy skoonma bring sy swanger “20-jarige vrou” vir ’n ondersoek na die Xuzhou City Central-hospitaal in die provinsie Jiangsu in die ooste van China.

Maar die verwagtende vrou is duidelik nie 20 nie – nie eens naastenby nie – en die hospitaalpersoneel tree onmiddellik op.

Die man, wat net as Liu bekend is, is in hegtenis geneem toe die owerhede uitvind sy “vrou” is net 12 jaar oud, berig The People’s Daily.

Volgens die Chinese nuusagentskap het die man (35) en die vrou (47) die gesprek met die dokter gedurende die ondersoek oorheers. Hy het hulle later gevra of hy alleen met die meisie kan praat.

Die dokters kon nie ’n woord uit die meisie kry nie, aangesien sy nie Mandaryns magtig is nie.

“Dit is duidelik sy is net ’n kind,” het een van die hospitaal se personeellede volgens berigte gesê. “(Sy is) beslis nie naastenby 20 jaar oud nie.”

Die hospitaalpersoneel se agterdog het die man blykbaar woedend gemaak en hy het gesê: “Ek het haar hierheen gebring om ondersoek te word. Doen net jul werk en hou op om so baie vrae te stel.”

Hy en die ouer vrou, net bekend as Xie, het na bewering selfs gedreig om die “hospitaal te bombardeer omdat die dokter te baie vrae stel”.

Die plaaslike polisie is ingeroep en hulle het uitgevind die meisie het geen Chinese identifikasiedokumente nie aangesien sy van ’n buitelandse nasionaliteit in Suidoos-Asië afkomstig is.

China National Radio het later berig in ’n amptelike ondersoek is bevind Xie, van die provinsie Henan in Sentraal-China, het die meisie ontvoer en haar aan Liu verkoop.

Die polisie het bevestig hulle glo die meisie is ontvoer en hulle het die man en vrou, wat vir mensehandel ondersoek word, aangehou.

Speurders vermoed die kind is as buitelandse bruid gekoop, berig die Global Times . Volgens GKTV-beeldmateriaal is daar sedert 2011 ten minste 14 meisies in die provinsie Yunnan in Suid-China ontvoer en verkoop.

Bronne: en.people.cn, globaltimes.cn, elitedaily.com, mirror.co.uk, metro.co.uk