So het die opskrif van ’n inskrywing op ’n aanlyn snuffelgids gelui wat wêreldwyd die lagspiere kielie.

Volgens thelocal.se probeer ’n Sweedse man sy Lego-versameling van 300 kg vir meer as R120 000 verkoop in ’n poging om sy huwelik te red.

“Jy kan ’n verskil maak! Red my huwelik,” skryf die onbekende man op die snuffelgids, wat soortgelyk aan Gumtree en OLX in Suid-Afrika is.

“My nare ouvrou het verlede Vrydag gesê: Nou raak jy ontslae van dié k**! Ek is nie seker of sy na my of die Lego verwys nie, maar ek dink dis die Lego.”

Hy sê hy soek desperaat ’n koper wat die hele versameling sal koop. “Geen los stukke of een boks nie,” skryf hy.

Nadat hy die advertensie aanlyn gepubliseer het, het die Sweedse media op hom toegesak, maar hy het elke navraag vriendelik van die hand gewys.

Dit is onbekend of sy vrou van sy aanlyn advertensie weet . . .

– Christiaan Boonzaier