Amptelike rekords wys die Britse parlementêre owerheid het in die afgelope jaar byna 300 000 pogings gemonitor om pornografie op hul rekenaars te kyk.

Die syfers, wat deur die rekenaarafdeling van die Britse parlement uitgereik is, dek rekenaars wat deur meer as 1 300 wetgewers, hul personeel en ander parlementêre personeel gebruik word.

Amptenare sê egter dat die syfers opgejaag is deur webtuistes wat hulself outomaties hernu, terwyl opspring-advertensies wat gebruikers nie aangevra het nie, dalk ook daartoe bygedra het.

Hulle ondersoek ook ’n groot wisseling in die aantal maandelikse pogings om pornografiese webtuistes te bereik, met byna 115 000 pogings in November 2012 maar net 15 verlede Februarie.

Die inligting is Dinsdag uitgereik in reaksie op ’n versoek oor vryheid van inligting deur die Britse Huffington Post-webtuiste.

’n Woordvoerder van die Britse Laerhuis het gesê: “Ons verwag nie dat die data ’n akkurate weergawe van die aantal doelgerigte versoeke deur internetgebruikers gee nie, weens die verskeidenheid maniere waarop webtuistes ontwerp kan wees om te werk, te reageer en op mekaar te reageer en weens die potensiële werking van derdepartysagteware.”

-   SAPA

-