Die 49-jarige man het vroeër vanjaar drie kinders tussen drie en nege jaar verkrag toe hulle ná skool op pad was huis toe, het kapt. Nqobile Gwala gesê.

“Hy het belowe om hulle iets te ete te gee. Toe hulle instap, het hy die deur gesluit en al drie verkrag. Ten spyte van hul hulpkrete het die verkragter nie opgehou nie, en hy het gedreig om hulle te vermoor as hulle die voorval sou aanmeld,” sê Gwala.

Die slagoffers het hul oom vertel wat gebeur het. Hy het die kinders dadelik geneem na die Plessislaer-polisiekantoor, waar drie verkragtingsake geopen is.
Die dossiere is na die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKSM) gestuur, sê Gwala.

“Intensiewe ondersoek deur die beamptes GKSM op Plessislaer het gelei tot die beskuldigde se inhegtenisname en vervolging. Hy is in die Pietermaritzburgse streekhof verhoor en was tot sy skuldigbevinding op 25 Augustus in aanhouding. Hy is vir elke verkragting ’n lewenslange vonnis opgelê.”

Geslagsgegronde geweld sal genadeloos beveg word “om ons kinders en vroue te beskerm”, het genl. Maj. Bheki Langa, waarnemende polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, gesê.

“Ons doen ’n beroep op ouers en voogde om altyd te weet waar hul kinders is en hulle te leer om soortgelyke voorvalle aan te meld. Ons loof die oom, wat nie gehuiwer het om die slagoffers na ’n polisiekantoor te neem om die voorval aan te meld nie. Ons het mense soos hy in ons land nodig om ons kinders te beskerm,” het hy gesê.

Bron: News24