Die ongeluk het Woensdagmiddag omstreeks 14:30 op die N1 tussen Laingsburg en Prins Albert-afrit gebeur.

’n Voorlopige verslag van die provinsiale verkeersdiens het bevestig dat dit ’n kop-aan-kop-botsing was.

“Dit was ’n kop-aan-kop-botsing tussen ’n VW Polo en ’n bakkie. Die polisie ondersoek die voorval,” het Byron La Hoe, ’n woordvoerder vir die provinsiale verkeersdiens, gesê.

La Hoe maan ook dat dié ongeluk mense moet herinner van die alewige gevare op ons paaie.

“Roekelose bestuur kan noodlottig wees met ernstige nagevolge vir dié wat in die ongeluk betrokke is en hul geliefdes. Die pad moes ook toegemaak word tot dit skoongemaak was, wat ernstige verkeersvertragings en opeenhopings veroorsaak het.”

Luidens berigte is ’n ouma (54) en haar vyfjarige dogter in die ongeluk dood. Haar twee kleinkinders, ’n 10-jarige seun en 15-jarige dogter, is ook in die ongeluk dood.

Een van die voertuie wou glo ’n ander voertuig verbysteek. Daar heers nog onsekerheid oor watter voertuig dit was. 

La Hoe het padgebruikers gemaan dat hulle verantwoordelik is vir hul eie veiligheid op paaie.

“Alle padgebruikers is verantwoordelik vir padveiligheid, goed bestuur en veilige voetgangergedrag – dis noodsaaklik.

“Ons kan help om die onnodige verlies aan lewens te bekamp as ons almal saamwerk en respek betoon teenoor ons medepadgebruikers,” het hy bygevoeg.