NewsDay berig Gladys Tsvuura van Dzivaresekwa in die westelike deel van Harare, het onskuldig gepleit op verberging van geboorte toe sy verlede week voor landdros Josephine Sande verskyn het.

Die staatsgetuie Shupikai Mbimbi het aan die hof gesê dat Tsvuura op 19 Mei die lewe geskenk het terwyl sy alleen in haar huurhuis was.

Dit het aan die lig gekom dat sy ná die geboorte die tweeling in ’n plastieksak toegedraai en hulle in ’n 20 liter emmer met water geplaas en in haar huis weggesteek het. 

Een van die babas het egter gehuil, wat Mbimbi, die verhuurder, laat lont ruik het. Sy het toe die tradisionele vroedvrou ontbied na haar huis om haar te help.

‘My babas het nie gehuil’

“Die vroedvrou het gekom, maar sy (Tsvuura) het geweier om die deur oop te maak en toe ek inloer by die deur het ek Tsvuura op ’n leë 20 liter emmer sien sit. Die vroedvrou is daar weg en het saam met twee polisiebeamptes teruggekeer en sy het toe die deur oopgemaak,” het Mbimbi gesê.

Tsvuura ontken die aanklagte en sê wie ook al op die toneel was, kan vir die hof sê wat werklik gebeur het, het New Zimbabwe.com berig.

“My babas het nie gehuil nie. Ek weet nie wat die vroedvrou met hulle gedoen het nie, maar ek is nie die een wat hulle in ’n emmer geplaas het nie.”

Sy beweer sy het in soveel pyn verkeer dat sy nie op die betrokke dag kon byhou met wat om haar aangaan nie.

Die babas was reeds dood binne-in die emmer waarop die beskuldigde gesit het.

Bron: News24