Saterdag moes Bernadette Pearce haar geliefde dogter Robyn begrawe nadat die jong vrou in haar woonstel in Seepunt met ’n mes doodgesteek is.

Twee dae later het ’n 28-jarige man, Wasief Buxbey, in die landdorshof in Kaapstad verskyn en aan die hof erken hy het Robyn vermoor.

Wasief is op Woensdag 14 Desember by sy huis in Ottery in hegtenis geneem nadat Robyn op 2 Desember met verskeie steekwonde dood gevind is. Hy het met sy inhegtenisneming aan sy ma erken hy het die Matie vermoor.

Maandagoggend het Wasief baie angstig gelyk in die beskuldigdebank en sag gepraat. Hy het aan landdros Joe Magele gesê hy gaan homself verteenwoordig en nie om borgtog of regshulp aansoek doen nie.

Rui Carvalho, staatsaanklaer, het gevra dat die saak na volgende jaar uitgestel word omdat die lykskouing-, forensiese, misdaadtoneel- en getuieverslae nog nie ingedien is nie.

Robyn was ’n tweedejaarstudent in geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch en het in haar ma se woonstel in Seepunt gewoon.

Wasief het glo saam met sy oom instandhoudingswerk by die woonstelblok gedoen toe hy Robyn in haar slaapkamer op die tweede verdieping sien.

Robyn het glo met oorfone aan na musiek geluister en haar voordeur was oop. Wasief het glo by die woonstel ingeloop en haar skootrekenaar, selfoon en beursie probeer steel.

Robyn het Wasief glo gesien en gekonfronteer. Hy het haar na bewering met ’n Okapi-agtige mes doodgesteek.

Die saak is uitgestel tot 28 Maart 2017. Wasief bly in aanhouding.

Ekstra bron: News24