Heather Koon van die Amerikaanse deelstaat Ohio is verlede week skuldig bevind aan vier klagte, wat onder meer verkragting en ontvoering insluit. Die misdade is gepleeg terwyl sy van Augustus 2012 tot Maart 2013 by ’n dagsorgsentrum gewerk het. Haar prokureur, Dan Wightman, het die 27-jarige vrou as ’n aangename en sjarmante jong dame beskryf; “iemand wie se persoonlikheid glad nie inpas met dit waarvoor sy aangekla word nie”. Maar Heather was meer as die aangename jong vrou. Sy was die mens wat kleuters in haar sorg verkrag het. Meer nog, sy’t die aanvalle op video vasgelê. Nog skokkender: Sy het ook die beeldmateriaal aan haar seksoortreder-verloofde, James Osborne (37), gestuur.

Volgens aanklaers het sy vier kinders, waarvan een net 2 jaar oud was, in opdrag van Osborne mishandel. Speurders het toevallig van die verkragtings in Oktober 2013 te wete gekom toe hulle ’n geregistreerde seksoortreder besoek het. Die seksoortreder was Osborne. Daar het hulle ’n ongeregistreerde skootrekenaar aangetref waarop beeldmateriaal van al die seksuele aanvalle gevind is. Dit het tot Koon se inhegtenisneming gelei.

Osborne, wat reeds onder toesig was vanweë kinderpornografie-klagte van vroeër, het ook ’n iPhone gehad ten spyte daarvan dat hy toegang tot die internet verbied was. Hy dien tans gevangenisstraf van agt jaar uit vir die vorige klagte. Op Donderdag 30 Junie het Koon skuldig gepleit op aanklagte van verkragting. Haar prokureur sê sy het die dade in opdrag van Osborne gepleeg. Osborne sou glo sy foon gebruik het om met Koon kontak te maak en haar aan te sê wat om met die kinders in haar sorg aan te vang. “Sy het baie berou daaroor,” het hy gesê. In hierdie stadium gaan die twee moontlik 15 jaar tronkstraf opgelê word. Nou moet besluit word of Heather ’n gewelddadige seksoortreder is of nie. Sou dit so bevind word, is dit lewenslange tronkstraf wat op haar wag. Sonder enige paroolvooruitsigte.

Die pa van die tweejarige wat deur Koon misbruik is, het gesê hy hoop die twee bring die res van hul lewe in die tronk deur. “Ek het nooit besef skepsels soos dié bestaan nie.”

Die ma van ’n driejarige wat ook een van Koon se slagoffers was, sê hoewel haar kind niks kan onthou van wat regtig gebeur het nie, het dit tog wel ’n groot invloed op haar gehad.

“Sy vertrou geen volwassene nie,” het die ma gesê. Koon het seksueel eksplisiete foto’s van haar kind geneem.

Volgens ’n studie oor vroue as seksoortreders, is dit ’n neiging wat die afgelope paar jaar aan die toeneem is, veral gewelddadige oortredings. Verhoudingsgeweld, fisieke en seksuele misbruik van kinders en selfs bekruipers onder vroue neem toe.

Die seksuele misbruik van kinders deur vroue word gewoonlik vermom as die daaglikse taak van “omgee”. Badtyd, aan- of uittrektyd en wanneer doeke omgeruil word, skep gunstige geleenthede vir vroue-seksoortreders.

Die boek Women Who Sexually Abuse Children: From Research to Clinical Practice klassifiseer hulle in drie hoofgroepe: Vroue wat aanvanklik jong kinders teiken; vroue wat adolessente teiken; en vroue wat deur mans omgepraat word om dade te pleeg.

Daar word ook tot die gevolgtrekking gekom dat vroue-seksoortreders in wese nie juis wesenlik van hul manlike eweknieë verskil nie.

Die Universiteit van Kaapstad het op 5 Junie skokfeite rondom die seksuele mishandeling van kinders in Suid-Afrika uitgereik.

Kortliks:

Altesaam 786 967 kinders is seksueel misbruik voor hulle 17 jaar oud geword het.

Seuns is net so kwesbaar soos meisies.

Meer jongmense in stede (34,9 persent) het misbruik aangemeld as hul plattelandse eweknieë (26,9 persent).

Een uit elke 10 kinders is seksueel misbruik deur ’n mens wat aan hulle bekend is. Die kans is goed dat hulle dit vier of meer keer ervaar het.

Waar om hulp te soek of aan te meld

Die departement van sosiale ontwikkeling het ’n 24-uur-inbelsentrum wat steun en berading aan slagoffers van geslagsverwante geweld bied. Die tolvrye nommer is 0800-428-428 om met ’n maatskaplike werker te praat.

Mense kan ook aanvra dat ’n maatskaplike werker hulle kontak deur *120*7867# gratis van enige selfoon te bel.

Childline Suid-Afrika: 0800-055-555.

Kinderwelsyn Suid-Afrika: 0861-424-453/011-425-4110 of e-pos info@childwelfaresa.org.za.

Bronne: ktla.com, fox8.com, chronicle.northcoastnow.com, femalesexoffenders.org, wikipedia.com, bhekisisa.org