Die 27ste Februarie is Nasionale Melktertdag en jý kan ook daaraan deelneem – deur bloot op dié Vrydag ’n sny melktert te eet.

In die Februarie-uitgawe van Weg verskyn daar onderhoude met vier geliefde “melkterttannies” soos deur Weg se lesers genomineer. Die joernaliste het so wyd soos Windhoek gereis om dié bobaas-baksters te ontmoet, hul resepte op te skryf en – natuurlik – ook hul melkterte te proe.

Sedertdien het die nostalgiese stories van kaneel, skilferkors en botter oor die wêreld uitgekring, en nou gee expats uit alle oorde antwoord en vertel op Facebook hoe húlle steeds ma’s, ouma’s en oumagrootjies se resepte in die buiteland bak.

Naas doodgewone pret hê is die doel van Nasionale Melktertdag ook om Suid-Afrikaners weer daaraan te herinner dat ons meer in gemeen het as wat ons dink – ons almal het met melktert grootgeword, en dié lekkerny is steeds immer teenwoordig by al daardie groot okkasies in die lewe – nóú, maar ook toe jy nog ’n pikkie was.

Dink maar terug aan die kerkbasaars, baba’s se doop, verjaarsdae of familiebegrafnisse – net soos jou naaste mense was melktert ook altyd daar.

Op 27 Februarie bring ons hulde aan dié happie vol heimwee en enigiemand kan in die feesdag deel.

Melktert bak is nie duur nie en ook nie moeilik nie en Weg wil graag die ganse land uitdaag om op 27 Februarie melktert te bak, te koop, uit te deel en te geniet.

Gaan verras jou dorp se ouetehuis met ’n paar terte in die hand, nooi die bure oor vir tee, deel handtertjies uit by ’n verkeerslig, pak ’n snytjie in die kinders se kosblikke vir eerste pouse... Kortom: deel die vreugde van Nasionale Melktertdag met jou medemens!

Loer ook aanlyn op Weg se Werf, Weg se Facebook-blad en ook by Nasionale Melktertdag s’n hoe ander Suid-Afrikaners aan melktert smul. En laai jou foto’s en video’s van die feesvieringe op!

#melktertdag #elketertjietel #myoumasinkaneel