By twee selfies van haar in ’n opgesmukte piepklein jean-kortbroek wat nie oor haar maag wil toegaan nie, skryf sy: “Aan my eetsteuring: Onthou hierdie broekie. Toe ons nog bymekaar was, het ek in hulle gelewe. Ek het hulle in my laai gesien en die herinneringe was al te aanloklik. Hulle. pas. nie. meer. nie. Op dieselfde manier wat jy nie meer in my lewe inpas nie . . . Ek sal ’n ander paar vind waaroor ek nie myself potensieel dood moet maak om dit aan te kry nie."

A post shared by BOPO?BABE (@amorparasimismo) on

Boodskappe van ondersteuning stroom in. Daar is nou al byna 3 000 likes en meer as sewentig mense wat kommenaar gelewer het, veral hoe trots hulle op haar is.

Sy het die eerste keer simptome van die eetsteuring, anoreksie, ervaar toe sy twintig was. Haar houding teenoor kos was haar manier om met depressie om te gaan.

Sy het hulp gekry en het nou ’n meer positiewe houding jeens kos en gewig. Sy erken daar is slegte dae ook, maar sy voel meer in beheer. Mense wat aan ’n ernstige graad van anoreksie ly, moet in ’n inrigting opgeneem word sodat hul toestand gemonitor kan word, sê Merensia Groenewald, ’n dieetkundige van Pretoria. “Dis belangrik dat hulle by ’n sielkundige uitkom om te bepaal waarom hulle ophou eet het.” Die gevaartekens is wanneer iemand slaafs voedseletikette lees, min eet, sê hulle is nie honger nie en dat hulle later sal eet, maar dan nooit eet nie.

A post shared by BOPO?BABE (@amorparasimismo) on

“Die suksesstories is min en die sterftes baie,” waarsku Merensia oor die ernstiger gevalle, “want lyers se organe word ook beskadig.”

Anoreksie is die psigiatriese siekte wat lei tot die meeste sterftes, blyk uit internasionele syfers. Daar blyk nie betroubare statistieke in Suid-Afrika te wees oor hierdie siekte nie, maar die wêreldwye gemiddeld is 0,5 tot 1 persent van alle meisies tussen die ouderdom van 13 en negentien het anoreksie.