Die tragiese gebeure het omstreeks 21:20 op Donderdagoggend 6 Julie in Brackenfell in die noordelike stadsgebiede van die Moederstad afgespeel.

Abigail Jooste (21) het glo gevra dat die bestuurder stilhou sodat sy kon uitklim.

Luidens berigte wou die bestuurder se helper nie hê sy moes uit die taxi klim nie. Toe val sy uit terwyl sy uitklim.

Die taxibestuurder het toe glo twee keer oor Abigail gery – en dit ten aanskoue van haar suster, Mavis, en negejarige niggie, berig die Daily Voice.

“Die helper het haar teruggehou en sy en haar niggie het uit die taxi geval,” het haar bedroefde ma, Rita van Neel, aan die dagblad vertel.

“Die bestuurder het toe oor haar gery. Hy het agteruitgery en weer oor haar kop gery. Mavis het gesien hoe haar suster in die pad sterf, asvaal van die stof.”

Abigail het glo jare lank deurgeloop onder breinvliesontsteking. Haar ma meen dis tragies dat sy nou op so ’n wrede manier moes sterf.

Twee verdagtes van 37 en 20 is intussen in hegtenis geneem, bevestig sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder. “Die verdagtes het reeds in die hof verskyn op aanklag van moord.”