Die eerste ding wat sy onthou, is dat haar ma haar hand vashou en vir haar sê sy sal oukei wees. Sy het pas bygekom ná ’n koma van 24 uur en was die een oomblik bewus van haar omgewing en die volgende oomblik nie. Sy kan bly wees sy het oorleef.

[caption id="attachment_115440" align="alignnone" width="594"]Die dokters het gedink sy is breindood, vertel Hanna. Foto: hlottritz.wordpress.com Die dokters het gedink sy is breindood, vertel Hanna. Foto: hlottritz.wordpress.com[/caption]

Hanna Lottritz, ’n student in joernalistiek aan die Universiteit van Nevada in die VSA, het in ’n brawe blogplasing gesê die voorafgaande 48 uur was die slegste tyd in haar lewe.

“Ek skryf dit omdat ek nie die belangrikheid van verantwoordelik drink besef het voor ek uit ’n koma wakkergeword het nie,” het die brunet geskryf. “Ek wil nie hê enigiemand moet deurmaak wat ek en my gesin deurgemaak het nie.”

Dit alles het in Julie verlede jaar onskuldig genoeg begin by die Night in the Country-musiekfees in Yerington, Nevada. Nadat sy en haar vriende die dag baie pret gehad het en sokker gespeel het, het Hanna die Country-sterre Joe Nichols en Jake Owen se konsert bygewoon. Sy het daar twee biere gedrink.

Maar Hanna se vriende het almal heeldag gedrink en sy het verplig gevoel om in te haal. Die voornemende joernalis het beken dit was presies waar die moeilikheid begin het.

“Ek het ’n bietjie deurmekaar begin voel en het wegbeweeg van die mense saam met wie ek die konsert bygewoon het,” het sy in die blog gesê.

“Ek het eindelik by ’n kampeerterrein uitgekom waar ek van my ander vriende raakgeloop het. Ek is van nature mededingend en hierdie klomp was oorwegend manne vir wie ek (om die een of ander rede) vertel het ek kan meer drink as hulle.”

Lees ook:  Ly jy dalk aan die vrees om iets mis te loop?

Dit was hierdie “byhou”-kultuur se skuld dat Hanna en een van haar vriende gewedywer het wie kan die langste teug uit ’n bottel Black Velvet-whiskey neem.

“Ek het onmiddellik daarna vir my vriende gesê ek voel goed, maar enkele minute later het ek inmekaargesak. Ek het nie asemgehaal nie.

“My vriende het my opgetel en na ’n noodhulptent gedra. Daarna is ek per versorgingsvlug na die Renown-hospitaal in Reno, Nevada, geneem. Die polisie het intussen by my ouerhuis opgedaag en aan hulle gesê om vir my by die hospitaal te wag.”

[caption id="attachment_115442" align="alignnone" width="600"]Hanna in die hoësorgkamer, ’n uur nadat sy by die Renown-hospitaal opgedaag het.  Foto: hlottritz.wordpress.com Hanna in die hoësorgkamer, ’n uur nadat sy by die Renown-hospitaal opgedaag het.
Foto: hlottritz.wordpress.com[/caption]

Toe Hanna by die hospitaal aankom, was haar bloedalkoholvlak .41, vyf keer hoër as die wetlike perk in die VSA. Sy was in ’n kritieke toestand.

“Die dokters het gedink ek is breindood, want ek het geen reaksie getoon nie.”

Maar sy was wonderbaarlik nie dood nie.

Lees ook: Drinklustige vroue ‘haal mans in’

“Vier en twintig uur nadat ek by die hospitaal aangekom het, het ek eindelik wakkergeword. Daar was ’n buis in my keel en my hande was vasgebind sodat ek dit nie kon uittrek nie.

“Die dokters en verpleegsters het aan my vertel hoe gelukkig ek was. Hulle het ook gesê hulle het nie gedink ek sou ooit weer die son sien opkom nie.

“Hulle het vir my gevra of ek my met drank probeer doodmaak het. Hierdie vraag het my die hardste geslaan. My oë het daar in die hospitaalbed in die hoësorgafdeling oopgegaan en ek het die erns besef van onverantwoordelik met drank omgaan. Die volgende dag, toe ek uit die hospitaal ontslaan word, het ek besef dat my siening van drank vir ewig verander het.”

Hanna is dankbaar dat van haar vriende genoeg omgegee het om haar op daardie tydstip te help.

“Hulle kon net sowel misbruik van my gemaak het nadat ek my bewussyn verloor het,” het sy geskryf.

“Hulle kon my alleen gelaat het om dit ‘af te slaap’. Ek kan jou nie sê hoeveel keer ek gehoor het ‘laat hy/sy dit afslaap, môre sal hulle reg wees' nie, maar dit is aan my vriende wat hulp gesoek het te danke dat ek vandag nog lewe.”

Hanna het aan Buzzfeed erken dat haar nare ondervinding sy tol geëis het ten opsigte van haar gesin en sy voel ongelooflik skuldig daaroor.

“Daardie nag het hulle gedink ek gaan nie oorleef nie en wanneer ek nou ook al die huis verlaat, skiet my ma se angsvlakke die hoogte in.”

[caption id="attachment_115443" align="alignnone" width="600"]Die kneusmerke van bloedtoetse wat gedoen is tydens haar verblyf in die hospitaal was baie dae nadat sy ontslaan is, steeds op haar polse sigbaar.  Foto: hlottritz.wordpress.com Die kneusmerke van bloedtoetse wat gedoen is tydens haar verblyf in die hospitaal was baie dae nadat sy ontslaan is, steeds op haar polse sigbaar.
Foto: hlottritz.wordpress.com[/caption]

Die viering van Hanna se 21ste verjaardag was natuurlik nie die rumoerige partytjie wat dikwels met daardie geleentheid verwag word nie – veral in die VSA waar die wettige ouderdom waarop jy mag drink, 21 is nie.

“Ek beplan om aandete en miskien ’n glas wyn saam met my gesin en naaste vriende te geniet.”

Lees ook: Hoe om jou babelas te verlig

Hanna se storie het soos ’n veldbrand versprei en meer as 300 000 mense het haar blog gelees – maar sy het ook ernstige teenreaksie gekry. Sommige lesers het haar selfs gekritiseer oor die drankie wat sy vir haar verjaardag beplan en sommige het haar as “alkoholis” uitgekryt.

Maar Hanna sê hulle slaan die bal mis.

“Ek wil hê mense moet weet dat dit nie noodwendig drank is wat dit aan my gedoen het nie; dit was my onnosele besluite,” het sy gesê.

“So iets kan met enigiemand gebeur, en om dit te sien in plaas van net daarvan te hoor, sal hopelik minstens een persoon van die waarheid oortuig.”

Ekstra bronne: buzzfeed.com, news.com.au