Agt jaar al droom hy van die dag dat hy eindelik sy beurt in internasionale krieket sal kry. Maar Faf du Plessis sou ’n maand gelede nog skaars kon glo wat 2011 alles vir hom sou inhou.

Eers het die Indiese Premierliga-span die Chennai Super Kings hom hier vroeg in Januarie vir ’n allemintige R867 000 gekoop – en dit vir 14 dae se werk . . .

Toe hy net die week daarna uiteindelik sy debuut vir die Proteas maak, stapel Faf 60 lopies teen Indië op, die meeste deur ’n Protea op dié dag.

En daar hou dit toe ook nie op nie. Net ná die wedstryd hoor hy hy is gekies as lid van Suid-Afrika se Wêreldbekerspan wat binnekort na Indië vertrek.

Nou stel Faf sy visier op een laaste triomf: Eers wanneer die Proteas uiteindelik ná jare se probeerslae die Wêreldbeker omhoog hou, sê die 26-jarige regshandige kolwer, sal al sy drome vir vanjaar verwesenlik wees.

En hy en die manne sal nie weer, soos in die verlede, op die kritieke oomblik ’n wind sluk nie, verseker hy ons.

“Die aanhangers het met reg tevore gesit en wag dat die Proteas choke wanneer dit saak maak, maar daai dae is nou verby,” sê die man wat nie net ’n voorslagkolwer is nie, maar ook al drie sy vangkanse tot dusver in sy drie internasionale wedstryde benut het.

Bespreek vir Skouspel!

“Ons is ’n jong span wat nog nie daardie etiket verdien nie, en ons sal julle wys dat dinge verander het.”

Juis oor dié windslukkery in die verlede betree die Proteas nie vanjaar se toernooi as een van die gunstelinge soos by vorige Wêreldbekers nie.

Dit tel egter in hul guns, sê Faf met selfvertroue, want die druk en die verwagtinge is minder.

Ja-nee, die groen-en-goue opmars gaan die opposisie vanjaar totaal onkant betrap.

Lees meer oor hierdie vasberade sportman in die Huisgenoot, 10 Februarie 2011.